Genesis 32: 22-32
Agtergrond:
- Jakob en Esau – Jakob het Esau en hul pa, Isak, jare gelede bedrieg toe hy op ’n slinkse wyse homself as Esau voorgedoen het en die seën wat sy broer toegekom het, gesteel het.
- Jakob en Laban – Jakob is die slagoffer van Laban se bedrog. Die ooreenkoms met sy oom Laban was dat hy vir sewe jaar lank moes werk voordat hy met Ragel kon trou. Sy oom bedrieg hom en en hy moes Lea as sy vrou neem en nog sewe jaar lank werk voordat hy met die liefde van sy lewe, Ragel, kon trou.
En dan lees ons vanaf vers 22 dat Jakob daardie nag sy vroue, slavinne en elf kinders geneem het en deur die Jabbokdrif gegaan het. Let op dat alles wat gebeur en alles wat vertel word van Jakob altyd met so tikkie drama gepaard gaan – hy vlug, hy trek oor die rivier, (in die nag) ensovoorts.
Daardie aand gebeur daar toe nog iets – daar is iemand wat met hom kom worstel/stoei. Dit is ’n stoeigeveg wat die hele nag lank duur. Jakob se opponent kan hom nie onderkry nie, selfs nadat sy opponent hom so hard op sy heup slaan dat hy vir sy lewe lank mank loop. Jakob dwing hom tot oorgawe en antwoord die teenstander: “Ek sal jou slegs laat gaan as jy my seën.”
Die man vra hom wat sy naam is. Die antwoord: “Jakob (die bedrieër).”
“Van nou af is jy nie meer Jakob nie, maar Israel – die een wat met God worstel/stoei en oorwin.” Ons afleiding is dus dat die persoon met wie Jakob gestoei het, God self was.
Ek wil net so ’n paar brokkies inligting by hierdie verhaal byvoeg.
Die eerste is die woord stoei – interessant dat die woord iets te doen het met stof. ’n Mens kan sê dat daar letterlik staan hulle het stof gemaak. Presies wat dit beteken weet ons nie. Hulle het dalk so in die stof gerol, van daar stof gemaak. Maar vir my is daar so ietwat meer aan om stof met die Here te maak – vir my spreek dit van ’n rou oomblik van waarheid.
Want sien, tot op hede is alles rondom Jakob een of ander stukkie konkelwerk – alewig ’n stukkie voorgee en bedrog. Alewig voorgee en veinsing. Of dit nou Jakob is wat sy broer bedrieg of sy oom Laban wat hom bedrieg – oral lees ons van hierdie konkelwerkbedrog. Maar nie daardie nag by die Jabbok nie – daar lees ons van rou emosie en kragmeting, geen voorgee en bedrog en praatjies maak nie.
Op 26 Januarie is ek baie skielik opgeneem in die hospitaal met bloeding op die brein en ek moes ’n breinoperasie genaamd kraniotomie ondergaan – ’n stukkie skedel word verwyder om drukking van die brein op die breinvlies te verlig en afhangende van die sukses mag ’n pasiënt dalk selfs met oop skedel lê totdat spesialiste ’n oorsaak vind en die bloeding en drukking kan verlig. Ek is op Maandag tydens ’n vyf-uurlange kraniotomie geopereer en toe onder sedasie geplaas. Ek is eers weer Donderdag uit die sedasie gebring en het stadig my bewussyn herwin. Ons was baie gelukkig dat die eerste prosedure suksesvol was en ’n opvolgoperasies nie nodig was nie. ’n Mens word met morfien behandel en kry die vreemdste hallusinasies. Erens onthou ek was ek momenteel wakker – die personeel moes my hande vasbind om te keer dat ek nie die pype uit my neus trek nie. Toe ek uiteindelik my volle bewussyn herwin het, was my eerste gedagte dat ek stof met die Here gemaak het. Dit was vir my ’n rou oomblik van waarheid waaroor ek geen beheer gehad het nie – ek was suiwer in die hande van die Here – natuurlik gebruik die Here kundige mediese spesialiste. Ek is gelukkig dat ek met ’n letsel op my kop gaan loop wat ek dink baie gou toe sal groei onder my hare – ek gaan dus nie ’n lewenslange mankloop-belewenis soos Jakob hê nie.
So ’n gebeurtenis laat ’n mens weer dink oor die manier waarop God met mense werk. Die Aartsvader-tyd in die Bybel is so bietjie van ’n primitiewe, terug na die basiese, tipe tyd. Die verhouding met God is dié van rou emosie en spring van een oomblik van waarheid na ’n volgende.
Is ons bereid om weer op so manier in ’n verhouding met God te leef? Is ons bereid om alle voorgee agter te laat en om stof te maak met die Here? Is ons bereid om deur rou lewensbedreigende oomblikke – oomblikke van waarheid met God – te beleef?
Ek dink Jesus het ons kom wys dat hy gereed was – hy het sulke oomblikke van waarheid saam met sy Vader beleef. As sy Seun het hy die oomblikke van – “Laat hierdie beker by my verbygaan”; “my God my God, waarom verlaat U my” – “Dit is volbring!” Deur rou oomblikke van waarheid te beleef, vorm ons soos geen ander ervaring kan nie – al moet ons stof maak met die Here. Ons kom op ’n onverklaarbare manier nader aan Hom.
My woorde van dank aan my vrou wat my so getrou bygestaan het en boonop nog soveel boodskappe van vordering gestuur het. Die gebede waarvan ek nademaal gehoor het van bekendes en onbekendes. Familie, vriende en naasbestaandes wat my, selfs al was ek van niks bewus nie, gehelp en ondersteun het.
My herstelpaadjie is nog lank nie klaar nie. Alle terapie is daarop gerig om so gou as moontlik na normaliteit terug te keer – ses maande word in die vooruitsig daarvoor gestel.
Die eerste personeellid waarmee ek daardie eerste aand te doen gekry het, is die dame wat die teetrollie beheer. “Wat is jou naam?”, vra ek. “Rachel”, antwoord sy. Toeval? ’n Oomblik van waarheid?
