My ouma het altyd gesê sy vergewe, maar sy kan nie vergeet nie. Sy was ’n kleuter toe die Kakies op hulle op hul plaas buite Parys toegesak het. Die Kakies het hul vee met bajonette doodgesteek, die plaashuis aan die brand gesteek en my oumagrootjie en haar kinders op ’n wa gelaai en na ’n konsentrasiekamp in Natal weggepiekel. Sy het my kleintyd van hul ervarings vertel, ja, én van die glasstukke in die konsentrasiekampkos.
My ouma het nie simpatie gehad vir Jan Smuts se pogings om versoening tussen Boer en Brit te bewerk nie. Die Engelse was immers nog nooit bereid om verskoning te vra vir die lewensverlies of vernietiging en vervreemding van eiendom tydens of ná die Anglo-Boereoorlog nie. My ouma sou beslis nie waardering gehad het vir Helen Zille se berugte uitspraak oor kolonialisasie nie (selfs al is Zille feitelik korrek).
Maar juis omdat ek as kind by my ouma van soveel onreg en swaarkry moes hoor, het Michael le Cordeur se artikel op Netwerk24 (https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/apartheid-was-misdaad-en-sonde-gepleeg-deur-christene-20200219) my so diep geraak. Ook hy was ’n kleuter toe hul gesin in die vroeë 1960’s in Wellington uit hul huis geboender is, toe sy ouers net betyds omkyk om te sien hoe die bulldozers ons huis en my pa se krisantetuin platstoot. Ook hy vertel van die ervarings van seerkry en swaarkry deur jare van onreg: die vernedering dat deure en skole en busse en treine en swembaddens en strande vir jou verbode is bloot omdat jy nie blank (die norm) is nie, die aanranding deur soldate wat gestuur is om betogings onder bedwang te bring.
Le Cordeur skryf sy artikel na aanleiding van FW de Klerk se uitlating dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. Hy beskryf dit as ’n skop in die maag. En dan skryf hy: Apartheid was ’n misdaad teen mede-Suid-Afrikaners. En méér: Apartheid was onmenslike geweld deur ’n regering wat op sy eie landsburgers jag gemaak het. Apartheid was sonde gepleeg deur Christene.
En dít is vir my ’n skop in die maag. Want dit is waar. Dit het die Hervormde Kerk 20 jaar na die beëindiging van apartheid geneem om dit te erken en ons Kerk se jarelange teologiese regverdiging van apartheid te repudieer. En toe het dit ons ’n kerkskeuring en ’n voortslepende hofsaak gekos, omdat talle broers en susters in ons midde steeds nie wou erken dat apartheid wesenlik in stryd is met die evangelie van Jesus Christus nie.
Maar ons durf op geen manier vandag – staatskaping en die growwe wanbestuur van die ANC ten spyt – die sistematiese oortredings wat in die naam van apartheid teen medeburgers gepleeg is, vergoeilik nie. Nie die huise wat sonder vergoeding onteien en platgestoot is nie, maar veral nie die mense wat uit ons kerke gejaag is, of die medegelowiges wat geen sitplek of spreekbeurt in ons kerkvergaderings kon kry nie. Om nou nog te wil argumenteer oor die aard of graad van sulke liefdeloosheid, is soos om te probeer kibbel oor die voordele wat kolonialisasie tog wel ingehou het.
Ons kan helaas nie die verlede ongedaan maak nie. Nou wat dóén Christene dan vandag in hierdie wye en droewe land van ons?
Christene erken hul skuld, Christene vergewe, en Christene soek daadwerklik na versoening. Selfs te midde van kwaadpraters en haatstokers bly dit ons roeping om niemand aanstoot te gee nie en ons harte wyd oop te maak vir mekaar. Dit kan ons net doen deur die genade van die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur woorde van waarheid, en deur die krag van God (2 Kor 6).
In die praktyk is versoening dikwels bitter swaar, maar dis wat Christene doen.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Geagte Dr van Wyk, om perspektief te kry op De Klerk se uitspraak, lees gerus Dr Anthea Jefreys se boek met titel The Peoples War. Sal graag in Blitspos u kommentaar wil lees nadat u dié boek gelees het.
Dr van Wyk. U mislei lesers deur aan te voer dat eiendom sonder vergoeding deur die vorige bestel uitgevoer is. Elkeen wat veskuif is, het huise ontvang in gebiede wat vir hul afgesonder is.
Kerkorrel se lied ‘Hillbrow’ eggo in my ore: “…ons survive met ‘n helse lot pyn in hierdie land…” Dankie, dr van Wyk. Jou dapper woorde gee hoop en rigting aan gelowiges in Suid-Afrika.
Baie dankie Wouter – jy formuleer dit baie goed!
Dr van Wyk. U skop my nie in die rug nie maar druk daar sommer n mes in. Dit is doodeenvoudig n leuen indien u se dat daar in die vorige bedeling slegs skole , busse, treine, hospitale en ander geriewe slegs vir blankes was, en die ander uitgesluit was. Alle geriewe en dienste was vir alle bevolkings groepe beskikbaar. Al verskil was, dit was apart, en nie gemeng.
U stel dit asof soldate gestuur is om mense te gaan aanrand. Daar is slegs oorgegaan tot geweld wanneer daar geweld teen die soldate en polisie gepleeg is.
Die mense wat wel verskuif is in die ou bedeling het huise ontvang waarheen hulle verskuif is.
Ek erken dat daar soms dinge gedoen is wat ander se menswees aangetas het. Dit was deur enkelinge en was nooit beleid van die vorige regering nie. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat ingestel was, was nie die bedoeling om mense te na te kom nie, maar om hulle te help en te ontwikkel.
Dit is bitter jammer dat n person wat in u posissie is, mense mislei deur halwe waarhede.
Dr Wouter u stel in die artikel baie duidelik die kern dat dit gaan oor God se woord en hoe ons, ons Christen skap moet uitleef. Baie dankie vir die goeie artikel dit word waardeer.
Beste Wouter,
Jy is dapper om so direk en eerlik te reageer op ‘n hoogs-sensitiewe saak. Ek respekteer jou daarvoor. Dit is tyd (en die geleentheid was daar) om te doen soos wat jy op ‘n uitstekende wyse stel. (Lees gerus die Duitse Ambassadeur se toespraak by FW de Klerkstigting (einde Januarie vanjaar) oor hantering van die verlede, versoening en toekomspad). Erkenning van foute en ‘jammer’ uitspreek oor wat andere weens jou optrede moes deurmaak, verg altyd moed al weet ons dat, wat hierdie saak betref, dit nie sonder diepe self-pyn aan Afrikanerkant gepaard gaan nie. Ons land is eintlik ‘n land in pyn en ALMAL behoort by te dra tot begrip en versoening. Dit beteken egter nie dat ons nie trots kan wees op ons Afrikanerskap nie–daar is oorgenoeg redes daarvoor.
Beste Wouter,
Jy is dapper om so direk–maar eerlik–te reageer op ‘n hoogs-sensitiewe saak. Ek respekteer jou daarvoor. Dit is tyd (en die geleentheid was daar) om te doen soos wat jy op ‘n uitstekende wyse stel. (Lees gerus die Duitse Ambassadeur se toespraak by FW de Klerkstigting (einde Januarie vanjaar) oor hantering van die verlede, versoening en toekomspad). Versoening, so kern tot vrede in hierdie land, verg grootmoedigheid wat meesal gepaard gaan met diepe self-pyn in die proses van erkenning, “jammer” en vergifnis. Dankie Wouter.