Toe die kinders en families in Gemeente Delmas uitgevra is oor hul ervaring van die grendeltyd, het hul antwoorde heelwat stof tot nadenke gebied.

Hoe voel dit om nie skool toe te gaan nie?

  • Sleg, want skool is lekker.
  • Baie lekker op die plaas, maar ek mis my maats (x 3).
  • My ma is my juffrou.
  • Nie lekker nie. Ek mis my maats.
  • Dit is hartseer. Dit is lekker om skool toe te gaan.
  • Voel soos ’n lekker lang vakansie, net jy kan nie weggaan nie.
  • Bietjie deurmekaar, maar later het ek aangepas by die homeschooling.

Wat het jy die meeste van skool gemis?

  • Om te speel met my maatjies.
  • My juffrou en my maats.
  • My maats.
  • My juffrou.
  • My maats en my juffrou.
  • Ek hou van lees en nou lees ons nie meer so baie nie.
  • My vriende en my juffrou.
  • My vriende.

Wat van tuisskool was lekker?

  • My ousus het my skoolwerkies met my gedoen.
  • Dit was lekker om laat te slaap en met ’n kombers op my skoot te kan skoolgaan. Ek kan my familie heeltyd sien.
  • Om gewone klere aan te trek.
  • Ek kon laat slaap.
  • Om by die huis te wees.
  • Die skooldag is nie so lank nie en ons doen net ’n bietjie huiswerk.
  • Dit was lekker toe ons plakkate gemaak het.
  • Ek kon huiswerk op my eie tyd doen.

Wat van tuisskool was nie lekker nie?

  • Ek raak moeg.
  • Ek het nie ’n juffrou gehad om my te help met wiskunde nie. Dis nie lekker om op die internet skool te gaan nie.
  • Vroeg opstaan.
  • Ek moet werk terwyl my kleinsussie speel.
  • My ma is my juffrou.
  • Ek het nie maatjies om mee te speel nie en is baie alleen.
  • Dit is nie lekker nie, want daar is nie ander kinders of juffrouens nie.
  • Ek kon nie vrae vir die onderwysers vra nie.

Dink jy julle gesin hanteer Covid-19 goed? Hoekom sê jy so?

  • Be wise and sanitise.
  • Ons is positief en ons sanitise heeltyd. Ons kon meer gesinstyd hê en die natuur geniet.
  • Ons spandeer baie tyd by mekaar.
  • Ons gesin leer mekaar se harte ken.
  • Ek slaap by my maats oor.
  • Ouma sê ons moet by die huis bly en maskers dra. Ons moet baie hande was en dan spuit Ouma ons hande.
  • Ons dra maskers en sanitise ons hande.
  • Na werk trek my ouers dadelik ander klere aan en was hul hande.

Wat het in Covid-19 gebeur wat nie lekker was nie?

  • Ek mag nie met my maatjies gespeel het nie.
  • Ek moet ’n masker dra en mag nie my maats sien nie.
  • Maskers dra en sosiale afstand.
  • Ek mag nie by familie gaan kuier nie.
  • Ek moet ’n masker dra.
  • Ek mag nie by my maats gaan speel nie. Ek moet ’n masker dra en dan kry ek nie asem nie. Ek mag nie aan my maatjies vat nie.
  • My hart is seer oor die mense wat dood is aan Covid-19.
  • Mis my vriende.

Waarna sien jy uit as Covid-19 verby is?

  • My partytjie.
  • Nie maskers dra.
  • Om weer sport te kan doen.
  • Om weer normaal aan te gaan. Ek wil graag my ouma en oupa en niggies en nefies sien.
  • Om uit te gaan.
  • Om weer winkel toe te gaan en nie ’n masker te dra nie.
  • Om saam met my beste vriend te speel.
  • Om saam met my vriende te gaan kuier en vis te vang.

Afleidings

Wat kan ons aflei uit hierdie stukkie nie-wetenskaplike navorsing?

  1. Kinders het gesinstyd en hul ouers se teenwoodigheid baie waardeer.
  2. Die dra van maskers was vir almal ’n aanpassing.
  3. Die sosialisering van kinders is baie belangrik.
  4. Tuisskool is ’n groter uitdaging as wat baie besef.
  5. Dit is opvallend dat kinders hul ouers dopgehou het ten opsigte van die nakoming van reëls. Dit beklemtoon opnuut dat kinders leer deur wat hulle sien.

Wat moes anders gebeur het?

  1. Die begeleiding en toerusting van ouers en opsigte van skoolonderrig moes beter plaasgevind het.
  2. Die kinders moes beter begeleiding ontvang het vir die gebruik van elektroniese media van onderrig.
  3. Die funksionering van gesinne moes meer aandag geniet het.
  4. Die beplanning en besteding van tyd moes in sekere gevalle effektiewer bestuur gewees het.

Hoe moet ons hierop reageer?

  1. Ek as ouer moet seker maak dat ek weet hoe my kind die inperkingstyd ervaar het. Moenie die emosionele uitwerking wat Covid-19 op jou gesin het, onderskat nie. Gesels daaroor met jou kinders en maak seker dat jy weet wat hulle ervaar.
  2. Die vraag is vir seker: Indien ’n tweede golf van infeksies ons tref, wat gaan ons anders doen?

Gevolgtrekking

Die belangrikheid van gesonde gesinstrukture mag nie onderskat word nie, en ouers moet moeite doen om te verseker dat hul huweliks- en gesinsverhoudings gesond is. As kinders van die Here is ons verhouding met Hom die basis van ons verhouding met mekaar. Ons hoop is in die Here en in sy almag. Ons mag nie toelaat dat ons hoop deur die wêreld gesteel word nie. Ons moet die Lig van Christus laat skyn en die wêreld herinner aan die Hoop wat in Christus is.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)