In sy redaksionele artikel in die uitgawe van Januarie/Februarie 2017 skryf die nuut aangestelde redakteur van Die Hervormer soos volg:
“Op ’n persoonlike noot: Dit is vir my ’n groot voorreg om die Kerk as redakteur van Die Hervormer te mag dien. Dankie aan my voorgangers saam met wie ek gewerk het en by wie ek kon leer: dr Daan van Wyk (jr), prof Piet Geyser, dr Gerhard Lindeque, dr André Ungerer en ds David Barnard. Dankie aan elke mederedaksielid met wie ek vir meer as ’n dekade saamgewerk het. En die SENTIK-personeel, ek sien uit om saam met julle te werk, julle is die hart van Die Hervormer.”
Nou gee hy die leisels oor aan ’n nuwe redakteur, en die redaksielede wat al vir jare saam met hom werk, wil aan ds Willem Sauer sê baie dankie. Dankie, Willem, vir jou kalm leiding met elke nuwe uitgawe wat ons moes beplan. Dankie dat jy deurgaans saam met en vir die Kerk baklei het vir die voortbestaan van ons amptelike mondstuk. Dankie vir jou daar-wees in elkeen van ons se nood, die spontane gebede sommer so oor die telefoon, en jou kalmte wanneer sake wou-wou warm raak. Ons span het altyd sonder struweling saamgewerk, in fisiese vergaderings en tydens WhatsApp-reëlings, dwarsdeur die pandemie en anderkant uit.
Dit was ’n heerlike voorreg!
(Op die foto is Willem onlangs saam met sy vrou, Elize, en hul kinders Marike en Wiehann.)
