Die tyd waarin ons leef, word gekenmerk deur ontwrigtende verandering, tegnologiese ontwikkeling, oorlading van inligting, diversiteit, kompleksiteit en fragmentering. Globalisering lei daartoe dat mense intens bewus is van en geraak word deur omstandighede en gebeure regoor die wêreld. Individualisering kenmerk die samelewing met die klem op die individu en individuele regte. Op ekonomiese gebied is daar onsekerhede met wisselvalligheid in die wêreldekonomie en bekommernis oor werksekuriteit. Op politieke gebied dra polarisering by tot toenemende politieke spanning regoor die wêreld. Gekonfronteer met hierdie verskynsels, sukkel ons om sin te maak van die wêreld waarin ons leef. Vanuit verskeie velde probeer beide kenners en leke sin maak ten einde die werklikhede van ons tyd te navigeer.
Hoewel die eienskappe van die tyd waarin ons leef, negatief kan oorkom en bepaalde uitdagings bied, is daar tog ook ’n keerkant. Daar is ook nuwe geleenthede wat geskep word deur die veranderende wêreld. Daar is innoverende idees wat na vore kom. Nuwe wyses van kommunikasie, nuwe wyses waarop besighede en ons lewens georganiseer word en vernuftige ontwikkelings wat grense deurbreek, hou alles opbouende geleenthede vir ons wêreld in.
Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) poog om deur middel van toekomsgeletterdheid (Futures Literacy) mense en gemeenskappe te help om beter sin te maak van die tyd waarin ons leef en terselfdertyd hul denke te rig op die toekoms. Hierdie projek, wat al regoor die wêreld deur middel van werkswinkels neerslag gevind het, het ten doel om mense te leer hoe om die toekoms te gebruik om sin te maak van die hede. Juis omdat die wêreld teen so ’n vinnige snelheid verander en ontwikkel, is dit nodig dat ons innoverend sal dink oor die toekoms. Die komplekse, dinamiese en kreatiewe aard van die wêreld wat ons ken en waarin ons leef, bots dikwels met die deterministiese en rigiede raamwerke wat ons gebruik om die werklikheid mee te verstaan. Indien hierdie diskrepansie voortduur, sal ons nie op sinvolle en innoverende wyses in gesprek kan tree met die veranderende wêreld nie en loop ons die gevaar om irrelevant te word in die wêreld van die toekoms.
Die eerste stap wanneer ’n mens oor die toekoms begin praat, is egter om te definieer wat die toekoms is. Die toekoms is iets wat (nog) nie bestaan nie. Niemand ken die toekoms nie – ons is almal ewe ongeletterd oor die toekoms. Die toekoms kan net in die hede bestaan deur middel van verwagtinge (antisipasie) wat ons oor die toekoms het. Ons verwagtinge oor die toekoms bepaal uiteindelik die wyse waarop ons oor die toekoms dink.
Ons verwagtinge vir die toekoms kan in twee sisteme geplaas word. Die mees algemene sisteem is ’n statiese, deterministiese een. Binne hierdie sisteem beskou ons die toekoms as ’n doelwit wat bereik moet word. Wanneer ons die toekoms op hierdie manier gebruik, is ons voortdurend besig met allerlei strategiese beplanningsessies met die gevolg dat ons ons denke oor die toekoms inperk tot die spesifieke doel wat ons wil bereik. Hierdie sisteem kondisioneer ons om die toekoms in kontinuïteit met die verlede te sien, soveel so dat die toekoms bloot ’n herskepping van die verlede is. So ’n manier van omgaan met die toekoms laat nie ruimte vir verbeelding of innoverende denke nie.
Die tweede sisteem waarbinne toekomsdenke geplaas kan word, is ’n oop sisteem wat gebaseer is op ontluiking of opkoms (emergence). Binne hierdie sisteem is daar ruimte en vryheid om onbevange te droom oor die toekoms, om jou verbeelding te gebruik en ’n aanvoeling te kweek vir nuwe, onverwagte dinge. Hierdie sisteem hou beter rekening met die feit dat die toekoms onderhewig is aan onsekerheid, verandering en nuwe dinge wat ons nog nie ken of van bewus is nie. Hierdie sisteem worstel met die kompleksiteit van werklikheid en gebruik verbeelding om nuwe vrae te vra en nuwe paradigmas te skep.
Om uiteindelik toekomsgeletterd te wees, is dit nodig dat ons beide sisteme van verwagting gebruik – die sisteem wat onderhewig is aan beplanning en doelwitte én die sisteem wat meer ruimte laat om sin te maak van verandering, onsekerheid en nuwe konsepte. Wanneer ons op hierdie manier met die toekoms omgaan, word ons bewus van ons eie onbewustelike aannames en verwagtinge van die toekoms. Ons bevry uiteindelik ons verbeelding wanneer ons besef dat die wêreld (en die toekoms) nie liniêr en deterministies is nie, maar gevul met misterie en wonder. Hierdie perspektief wat verkry word uit ons verwagtinge oor die toekoms kan ons weer terugvoer na die hede om die wyse waarop ons uitdagings in die hier en nou aanspreek, te verander.
Die vaardighede wat opgedoen word uit toekomsstudies kan van onskatbare waarde wees vir die kerk. Ook in die breër Hervormde Kerk is daar deurlopend gesprekke oor volhoubare kerkwees. Talle ringe en gemeentes is besig met strategiese beplanning. Tereg ook so. Volgens die Barna-groep, ’n Christelike navorsingsorganisasie in die VSA, is ’n toekomsfokus een van 15 dimensies wat gebruik word om die volhoubaarheid van gemeentes te meet. Dit is egter nie genoeg om net op liniêre vlak met toekomsbeplanning besig te wees nie. Om die volhoubaarheid van gemeentes en kerkwees te prioritiseer, vra dat ons nou, in die hede, ons aannames opsy skuif, worstel met die kompleksiteit van ons tyd en op verbeeldingryke wyse die misterie van die toekoms omhels.
(Dr Marina Kok-Pretorius is predikant in Gemeente Potchefstroom)