Elke jaar begin ’n predikant weer van voor af met beplanning in ’n gemeente. Jy wonder wat jy hierdie jaar met die jeug kan doen. Is daar preekreekse wat ek kan gebruik? Wat kan ek by die Bybelstudie en die skoolopeninge behandel? Waar vind ek bronne wat my kan help om lidmate te begelei om hedendaagse vraagstukke en wêreldgebeure sinvol te interpreteer?
Gelukkig hoef predikante en lidmate nie langer te wonder oor waar hulle hierdie inligting kan bekom nie. Die Kerk bied reeds ’n oplossing. Deur die jare heen het die Kerk wyd oor ’n verskeidenheid onderwerpe geskryf – uitdagings, geleenthede, jeugprogramme, kerkgeskiedenis en dies meer. Hierdie publikasies het in ’n stadium ’n tydperk van groot bloei beleef toe die Kerk besighede besit het wat goed presteer het en vir baie mense werksgeleenthede verskaf het – van bouers tot professors. Elkeen het sy plek in die Kerk se werksomgewing gevind.
Mnr AB van N Herbst het reeds in 1948 met besondere visie ’n drukpers begin. Sy doel hiermee was om vir kinders van die Kerk se weeshuis werk te verskaf nadat hulle hul skoolloopbaan voltooi het. Dit het as die NHW Pers (Nederduitsch Hervormde Weeshuis Pers) begin. Daarna het die NHW Bouers begin waar die seuns van die weeshuis opgeleide bouers kon word. Hulle het veral kerke en pastorieë gebou, wat handig te pas gekom het toe die Kerk aansienlike groei beleef het en al hoe meer kerkgeboue in die 1970’s en 1980’s opgerig is. Mettertyd is die HAUM (Hollands-Afrikaanse Uitgewersmaatskappy) deur die NHKA oorgekoop en is daar ’n aantal boekwinkels geopen. Die Kerk het kontrakte by die staat ontvang om skole se handboeke te druk, wat ’n groot inspuiting vir dié uitgewery was.
Die behoefte om materiaal oor relevante kwessies te skep, het ontstaan. Die Kerk het gevolglik predikante en ander kundiges aangestel om gereeld boeke en toerustingsmateriaal te skryf. Dit het gelei tot die ontstaan van KITAL (Kerklike Instituut vir Toerusting van Ampsdraers en Lidmate). Die Kerk het ’n groot verskeidenheid waardevolle boeke, ander publikasies en toerustingsmateriaal uitgegee wat deur belese en bekwame outeurs geskryf is.
Die waardevolle besigheidsbelange van die Kerk het ongelukkig intussen tot niet gegaan. Tog is daar van die skatte wat ons vandag steeds kan benut. Baie van die kerkgeboue waarin ons vandag eredienste hou, het vir jong manne en vroue werksgeleenthede gebied. Ons dink ook aan die tannies wat hul vingers stompies gebak het aan koeksisters en koekies om fondse vir die bouery in te samel (gaan vra maar jou ouma of oumagrootjie).
Een van die grootste skatte wat steeds van aansienlike waarde kan wees, is die boeke wat uitgegee is en soms vol stof op predikante se boekrakke of in die Argief staan. Dit is soms baie maklik om te dink dat ’n boekie met ’n ou omslag en verbleikte en vergeelde blaaie nie meer vandag van toepassing is nie, maar so ’n aanname is te haastig. Ons kom voor talle kwessies te staan waar dit nie nodig is om die wiel weer uit te vind nie. Daar is reeds waardevolle riglyne. Ons moet net die stof van die boek afblaas en die wysheid en kennis in daardie boeke herontdek. Daardie bronne kan steeds relevant vir die nuwe kwessies van vandag wees.
Die Sentrum vir Reformatoriese Teologie (SRT), in samewerking met die Argief van die NHKA, het verlede jaar ’n projek geloods om baie van die boeke wat deur die NHKA gepubliseer is, elektronies beskikbaar te stel. Hierdie boeke is onder andere deur die NHW Pers, HAUM, KITAL en SENTIK versprei. Volg gerus hierdie skakel na Internet Archive https://archive.org/details/@nhka_argief/uploads waar u saam met ons die Kerk se bronne kan herontdek.
Indien daar ’n boek is wat nog nie daar beskikbaar is nie, of indien daar spesifieke boeke is wat na u mening nog by hierdie aanlyn versameling gevoeg moet word, is u welkom om vir my ’n versoek te stuur by waldo@nhk.co.za sodat ons die aanlyn biblioteek verder kan uitbrei. Ons beplan nie om op hierdie stadium al die boeke op te laai nie, maar om selektief daarmee om te gaan. Ons wil eerder ’n verskeidenheid uit verskillende dissiplines beskikbaar stel. Die fokus is veral op dit wat vir predikante en lidmate van praktiese en historiese waarde kan wees.
Die skandeerproses is nie aldag so eenvoudig soos wat ’n mens mag dink nie. Boeke word by die Argief uitgesoek vir skandering. Daar is slegs ’n gedeelte van die boeke by die Argief self beskikbaar. Van die ander boeke is by Gemeente Midstream en die res staan nog in kartondose by Gemeente Wonderboompoort. Terloops, u is welkom om die versameling by Gemeente Midstream te raadpleeg. Die feit dat die boeke op verskeie plekke staan, maak die toeganklikheid ’n uitdaging en juis daarom is die skandeerproses so belangrik.
Die geselekteerde boeke word met behulp van een van die twee oorhoofse skandeerders wat deur die SRT en die Argief gebruik word, geskandeer. Elke bladsy moet geskandeer word en daarna moet die persoon wat die skandering doen, toesien dat elke bladsy reg vertoon. Daarna word die skanderings saamgepers tot ’n soekbare PDF-dokument. Die dokument word dan op Internet Archive opgelaai, waar daar ’n aantal metadata ingevoeg word om die dokument se soekbaarheid te verbeter. Wanneer die dokument deur daardie prosesse is en opgelaai word, word die dokument by een van verskeie lyste (Algemene Kerkvergadering, Almanak en NHKA boeke) geplaas, om soektogte te vergemaklik.
Hierdie projek is nog in die beginfase en deurlopende befondsing word benodig om dit moontlik te maak. Tog bly dit vir die Kerk ’n belangrike projek om die wysheid van vroeëre generasies weer te laat hoor. U is welkom om my te kontak indien u meer inligting verlang of die projek wil ondersteun.
(Ds Waldo Pretorius is leraar van Gemeente Ventersdorp)