Is jy dalk ’n emerituspredikant of predikanteweduwee? Dan is dit nou die tyd om by die Eendrachtkring aan te sluit, of soos ds Kalla Fourie dit noem: die ouerwordendes! Die Eendrachtkring het op 8 Mei 2025 saam gekuier by Gemeente Wonderboompoort, en toe ook die eerste 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal gevier.

Die Eendrachtkring skep ’n ruimte waar gelowiges deel in mekaar se lief en leed. Ná afloop van die verwelkoming deur ds Fourie, voorsitter van die Eendrachtkring, is elkeen die geleentheid gebied om hul eie of hul kinders en kleinkinders se prestasies te deel. Gelukwense en applous het in die saal weerklink. Almal het in mekaar se vreugde gedeel. Dit was roerend om die leed onder die lede van die Eendrachtkring te beleef by die aanhoor van die name van lede wat sedert die vorige vergadering oorlede is. Dit is waarlik ’n hegte band wat tussen hierdie groep gedeel en onderhou word.

Ds Wilhelm Steyn het die opening van dié samesyn kreatief verweef met die bydrae van ander kollegas en ’n samestelling deur mev Frieda van Wyk wat Afrikaans herdenk. Dié samestelling het bekende Afrikaanse gedigte en ’n Psalm van Dawid ingesluit, gevolg deur tradisionele Afrikaanse musiek wat saamgesing is met begeleiding deur mev Anretha Malan.

Ds Fourie beskryf die Eendrachtkring as ’n ruimte waar lewensverhale en ervaringe met mekaar gedeel word, ’n ruimte waar wysheid verruil word. Hy voeg by dat die Eendrachtkring nie eksklusief geag moet word nie, maar eerder as ’n lewendige ruimte waardeur vreugde en vriendskap vloei. 

Maak seker jy het ’n sitplek by die volgende geleentheid in November saam met hierdie besonderse groep mense. Enige navrae kan gerig word aan ds Fourie by mejpjf@gmail.com.

(Ds Iwana Hartmann is die NHKA-joernalis en predikant by Gemeente Pretoria-Oos)

Di Theuns Botha en Kalla Fourie

Agter mnr Van Rooy van den Berg en voor mevv Anretha (Botha) Malan en Frieda van Wyk en Marli Buys

Agter mevv Marita Fourie en Frieda van Wyk en voor mev Henrietta Brayshaw

Ds Fanie Naude en prof Bieks Beukes

Mnr Van Rooy van den Berg

Ds Kalla Fourie

Ds Wilhelm Steyn