Konnektiwiteit is iets wat alle jongmense verstaan, maar besef ons altyd dat ons konneksie met God moet wees? God het reeds hande na ons toe uitgesteek, die vraag is: Wat is ons respons daarop?

Konneksie en konnektiwiteit is nie noodwendig terme wat daagliks in ons samelewing gehoor word nie, maar vir seker terme wat die wêreld om ons aan die lewe hou. WiFi word in dieselfde lig gesien as suurstof. Jy hoef nie daaroor te dink nie, en die meeste van die tyd is ons nie eens werklik bewus daarvan nie. Dit is eers wanneer dit nie meer daar is nie dat ons magteloosheid ervaar. Niks werk nie en ons kan ook niks daaromtrent doen nie.

Op verpakkings van drukkers en ander elektroniese toerusting vind ons al hoe meer die opsie om alles te konnekteer en te integreer. Ons telefone gesels met ons voertuie en ons rekenaars weer met ons telefone. Alles is met mekaar in verbinding en inligting kan moeiteloos tussen die skakels heen en weer beweeg – altans, indien alles gekonnekteer is met mekaar. Skakels in hierdie stelsel voed mekaar, en die hoofkonneksie moet van hoë gehalte wees om die funksionering van die betrokke toestel optimaal te benut. Dit is egter nie eens ’n kwessie om van ’n swakker WiFi-konneksie na ’n beter een te skuif nie.

Konneksie is so ’n belangrike begrip vir ons daaglikse funksionering in die Vierde Industriële Revolusie, en tog is dit iets wat so vanselfsprekend aanvaar word dat ons nie meer werklik daaroor dink nie. Johannes 5: 19 is ’n teks wat die baie diep konneksie tussen die Vader en die Seun uitbeeld wanneer Jesus sê: Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.

As Jesus sy konneksie met die Vader verloor het, was sy optrede vanuit Homself en nie vanuit die wil van die Vader nie.

Besef ons werklik hoe belangrik ons konneksies is? Aan wat ons gekonnekteer is en wat ons dan indirek voed? Ons skuif maklik ons WiFi-konneksie, maar nie sommer ons geestelike konneksies nie.

Ons opdrag in die wêreld kan reusagtig lyk. As ambassadeur vir God se koninkryk in ’n wêreld waar korrupsie en uitbuiting aan die orde van die dag is, word daar van my as gelowige verwag om teen die sisteem op te staan en die gereedskap te wees waardeur God se geregtigheid en regverdigheid in die wêreld sigbaar raak. Ek kan dit nie optimaal doen op my eie nie en ook nie eens as ek gekonnekteer is aan die volgende en nuutste motiveringspreker nie. My konneksie moet wees met God. God het reeds hande na ons toe uitgesteek, die vraag is wat ons respons daarop is. Ek kan nie bekostig om nie noukeurig bewus te wees van en hierdie konneksie met God te versorg en in stand te hou nie. Sonder die Gees se leiding is die opdrag wat God gee nie uitvoerbaar in enige sin van die woord nie.

Konnektiwiteit is iets wat alle jongmense verstaan. Die fokus hoef nie te wees om konneksie te bevorder nie, maar eerder om erns te maak met waaraan ons konnekteer. Daar is niks soos die konneksie met God nie, en niks kan hierdie konneksie vervang of hierdie kritieke rol oorneem nie. Dit is die kruks van die saak. Wees bewus van jou konnektiwiteit, en veral, wees bewus van jou hoofkonneksie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap