Geen publikasie in ons land sal hierdie week kan vermy om melding te maak van die nagmerrietonele wat ons op TV moes aanskou nie. Dit is met afgryse dat ons hierdie anargie gadeslaan, en met bitterheid dat ons die minagting van die reg, die vergryp aan eiendom en die verwoesting van infrastruktuur voor ons sien afspeel. Om nie ook hier daarvan melding te maak nie, sou gelykstaande wees aan die spreekwoordelike olifant in die vertrek te ignoreer.

Daar kan GEEN regverdiging vir hierdie geweld en wetteloosheid gevind word nie.

Dit sou ’n leuen wees om te sê dat ons dit nie gesien kom het nie. Een ding wat ons van Afrika kán sê, is dat mense hier veel minder lydsaam is as die Europese verdraagsaamheid waaraan ons gewoond is. Hulle laat jou gou verstaan as hulle nie tevrede is nie. Ons het lank aan die ontvangkant daarvan gestaan.

Destyds was dit lyke wat die ANC se bomme in Amanzimtoti en Montclair se winkelsentrums so soos winkelpoppe verstrooi laat lê het. Ek het Monica Breedt nog self begrawe. Ja, dit kán erger.

Destyds was dit wit polisiemanne wat só met gewere in die hand afgeneem is. Hierdie week was daar foto’s van witmense, min van hulle maar tog, wat aan die plundery deelgeneem het.

Nee, verras is ons nie.

Só lyk die mens as sonde onbeteueld die oorhand kry. Dit is waarteen God waarsku.

Moenie te ontsteld wees nie; dit is niks nuuts nie. Miskien is daaruit te leer – en ek moet sê dit is vir my ook ’n stywe leerkurwe – dat “strukturele sonde” (sonde wat glo in die strukture van samelewings ingebou is, dit waarvan die Apartheidstaat ook beskuldig is) tóg bestaan.

Dit is jammer dat die vonk in die kruitvat ’n man moes wees wat nie hierdie gewaande verontwaardiging en eerbetoon verdien nie.

Dit is net so jammer dat die staatskas presies net so skandelik, net met die skyn van meer ordentlikheid, oor jare heen kaal geplunder is – meer geld as die somtotaal van al die skade wat hierdie week deur die gepeupel aangerig is – en die “agtergeblewenes” steeds agterbly. Morele leierskap ontbreek. Waarom sou ’n nasie anders lyk as wat hul leiers hulle leer?

Ons het ’n ander Leier: Jesus Christus, die Seun van God, wat ons waarsku dat ons oor geen sonde ooit uit die veld geslaan moet voel nie. Dit is mense se natuur. Waarom anders sterf Jesus aan die kruis?

Ons moet uitgesproke wees oor reg en geregtigheid, oor orde en vryheid, dan praat Hy deur ons monde met hierdie korrupte wêreld.

Nee, ons kan van die mens niks anders te wagte wees nie. Ons is ten minste konsekwent: sondaars, almal, altyd! Van A tot Z.

In die Verenigde Koninkryk is destyds verwag dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voor die Nazi’s die land binneval. Plakkate is vooraf gedruk ter voorbereiding van dié gebeurlikheid, en is toe nooit gebruik nie. Dit het intussen ’n slagspreuk geword wat die Engelse “stiff upper lip” mooi raaksê: Keep calm and carry on.

Dit is wat gelowige mense in Suid-Afrika nou gaan doen. Veral sal ons aanhou glo dat God regeer, dat Jesus die Here is. Ons gaan soos Paulus maak: Kyk na my, sê hy, sien Christus.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap