Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” (Johannes 18: 25, AFR1983)
Lees Johannes 18 en 21
Ons almal hou van ’n vuur. By ’n vuur speel die weerkaatsing van die vlamme op die gesigte van almal wat rondom sit. Dit het ’n manier om mense bymekaar te bring.
Ongelukkig vir Petrus, as jy hom sou herinner aan ’n vuur, sou hy terugdink aan daardie oomblik toe hy Jesus verloën het. ’n Meisie konfronteer hom en sê: Maar jy is mos een van hulle? En dan, daar by die vuur, ontken hy Jesus.
Wel, die woord wat gebruik word, is ’n woord wat net in Johannes voorkom, en dit is houtskoolvuur (anthrakia) (Joh 18: 18, 25). En dan ook op een ander plek in Johannes, en dit is in Johannes 21: 9. Op ’n briljante manier kom sê Johannes vir ons: Sien hierdie twee gebeure saam – Petrus wat Jesus verloën, maar ook Jesus se afspraak met hom wanneer Jesus klaar uit die dood uit opgestaan het en sy dissipels by die see ontmoet. Hy kry Petrus waar hy uitgegaan het om vis te vang. Terug na sy ou lewe toe. As Jesus hulle daar op die strand inwag, herken Petrus Hom en hy besef, die Here het ’n afspraak met hom. Daar by ’n houtskoolvuur.
Die meeste mense sou daarby verbygekyk het, maar Petrus moes dit raakgesien het – ’n tweede houtskoolvuur. ’n Vuur waar die Here vir hom sê: Ek het nodig om ’n paar dinge wat in jou lewe gebeur het weer nader te trek sodat ons dit kan uitsorteer, want duidelik, Petrus, loop jy met daardie bagasie rond. Dit is goed wat jou vreugde steel – skuldgevoelens, die wete dat ek my Here verloën het, die gevoel van: Ek is ’n mislukking. Kom ek word maar net weer ’n visserman in plaas daarvan om my roeping uit te leef.
Hier by die houtskoolvuur doen Jesus iets persoonlik. Hy roep Petrus weer op sy eerste naam: Simon. Dit is asof Hy hom wil herinner aan die eerste keer toe Hy hom geroep het en vir hom gesê het: Simon, volg My en jy gaan ’n visser van mense word.
By die houtskoolvuur kom ontmoet Ek jou waar jy nou in jou lewe is. Ek ontmoet jou in jou stukkendheid, in jou foute. Ek vra nie van jou iets meer as wat jy kan gee nie. Hier begin Ek met jou oor. Hier is vergifnis. Hier is my warmte.
In ’n sekere sin is dit eintlik maar die verhaal van die evangelie, die verhaal van Goeie Vrydag en Paassondag. Die verhaal tussen twee houtskoolvure. Een vuur van mislukking, van sonde, van my ou natuur, van alles waaroor ek skaam is en sleg voel. Maar ook die verhaal waar die Here sê, nee, by my vuur is daar vergifnis, by my vuur begin Ek met jou oor. Daar is nie ou koeie wat Ek uit die sloot uit moet haal nie.
En dit konfronteer ons nogal met ’n groot vraag in ons lewe: Hoe kyk ons na onsself? Sit ons dalk nog vasgevang by die eerste houtskoolvuur van ’n Petrus wat dit nie maak nie, wat voel asof ek eintlik maar ’n mislukking is? Dalk ’n vuur van dinge wat skeefgeloop het in my lewe, goed waaroor ek sleg en skaam voel? Of, het jy al by die tweede vuur kom sit waar Jesus vir jou sê: By my vuur is daar net liefde. Ek kyk met sagte oë na jou.
Is jy moeg of voel jy ek kan nie meer nie, ek dra te swaar aan al hierdie bagasie van die lewe? Dan wil Jesus jou uitnooi om te kom sit by sy vuur, want daar is rus. Is jy een van daardie mense wat voel ek moet perfek wees? Vir jou sê die Here: Jy is welkom by my vuur net soos jy is. Sukkel jy om ander mense te vergewe, om vir hulle lief te wees? Dan sê die Here: As jy deur my vuur na ander kyk, dan sien jy hoe my hitte ook op hulle straal, want by hierdie vuur is daar vergifnis.
Mag jy in hierdie komende dae die warmte, die liefde, die omgee, die sagtheid van die Here se vuur beleef. Mag die Here jou help om waarlik lig en vry te kan lewe.
