Die NHKA se 72ste Algemene Kerkvergadering het van Maandag 23 tot Donderdag 26 September by Gemeente Wonderboom plaasgevind, met die opening Sondagaand 22 September by Gemeente Montana.
In sy openingsrede het dr André Ungerer aan die hand van Handelinge 16 en Paulus-hulle se tweede sendingreis gepraat oor missionale kerkwees, onderskeiding, eenvoudiger maniere van kerkwees, en dissipelvorming. Met die akroniem MOED het hy die teenwoordiges uitgenooi: Kom ons skep moed onderweg na 2025. Kom ons skep moed wanneer ons lidmate in die Hervormde Kerk leer dat hulle gestuurdes is wat die evangelie van Jesus Christus in gemeentes en in die gemeenskap beliggaam. Kom ons skep moed as ons ervaar hoe die Heilige Gees ons lei wanneer ons in ’n onderskeidingsproses is en dalk vir die eerste keer nuwe lig sien. Kom ons skep moed wanneer ons deurbrake beleef om op eenvoudige dog meer effektiewe maniere kerk te wees. Kom ons skep moed wanneer die dissipels wat ons help vorm het, op kragdadige wyse in en buite gemeentes die evangelie van Jesus Christus vergestalt. Hervormde Kerk – skep moed en lê moed aan die dag onderweg na 2025.
Sinergie
Beskrywingspunt 1 op die agenda van die AKV het dié opskrif gedra: Sinergie onderweg na 2025. Sinergie beteken samewerking, en die beskrywingspunt roep alle gemeentes, ringskommissies en sinodale strukture op om deurlopend na geleenthede te soek om ons energie bymekaar te voeg sodat ons saam meer kan bereik as op ons eie. Die datum (2025) gee ons ’n mikpunt waarheen ons werk: Oor twee termyne, by die 74ste AKV, wil ons die proses van konsolidasie afgehandel hê sodat ons met nuwe krag ons roeping kan uitleef.
In die komende termyn van drie jaar sal die Kommissie in oorleg met ringskommissies werk aan ’n nuwe indeling van ringe. ’n Herindeling van ringe kan weer meer bekwame predikante en ouderlinge byeenbring om sterk leiding te gee, en dit kan ook beter samewerking tussen gemeentes tot gevolg hê. In sommige gevalle kan dit lei tot terugstigtings en samesmelting van gemeentes, sodat ’n gekonsolideerde gemeente meer toegewyde, bekwame persone kan hê wat goeie kategese kan verseker, die administrasie kan verbeter, en die dienswerk in die gemeente en gemeenskap kan verrig.
Die besluit dat gemeentes voor die 73ste AKV sal oorskakel na die SAGE 1-rekeningkundige stelsel is ook ’n stap in die rigting van konsolidasie en meer effektiewe maniere van bestuur. Gemeentes wie se oudits vir langer as twee jaar uitstaande is, sal deur die Sinodale Dienssentrum bygestaan word om die oorskakeling so spoedig moontlik te doen.
Gemeentes word aangemoedig om alle moontlikhede te ondersoek om die maksimum inkomste uit hul eiendomme te genereer. Gemeentes kan oorweeg om eiendom soos kategeselokale, koelkamers of gronde te verhuur. In sommige gevalle kan ’n gemeente hul kerkgebou verkoop en ’n kerkgebou met ’n ander gemeente deel om sodoende kapitaal te genereer en vaste, lopende uitgawes te verminder.
Verder word die Kerk – ringe, gemeentes, kerkrade en lidmate – opgeroep om in die komende drie jaar saam te dink oor ’n paar brandende aangeleenthede. Die Kommissie van die AKV het opdrag gekry om verdere studie oor Skrifbeskouing en Skrifverstaan te doen, en gesprek in die Kerk hieroor te stimuleer. Baie van ons onderlinge verskille oor aktuele sake is juis die gevolg van die manier waarop ons die Bybel lees en interpreteer.
Formuliere
Die 72ste AKV het ook vyf nuwe formuliere goedgekeur: ’n nuwe huweliksformulier, ’n nuwe formulier vir die bevestiging van ’n predikant, ’n nuwe formulier vir die bediening van die Doop aan volwassenes en kinders, asook Engelse vertalings van die huweliksformulier en die Doopformulier.
Veral die nuwe huweliksformulier het wye reaksie uitgelok. Hoewel genoem is dat die tradisionele huweliksformulier ’n historiese band het met ’n vroeë Protestantse huweliksformulier, het verskeie sprekers daarop gewys dat die Hervormde Kerk se Skrifverstaan nie die selektiewe gebruik van Bybeltekste in hierdie huweliksformulier kan ondersteun nie. Die Kerk kan ook nie meer die man as “hoof van u vrou” of die vrou as “die swakker geslag” beskryf nie. Al kan die Kerk uitsprake soos hierdie binne konteks verduidelik, kan die Kerk nie meer by huweliksbevestigings ’n formulier gebruik wat ’n meerderwaardige posisie aan die man toeken en die vrou oproep om aan hom “onderdanig” te wees nie. Baie mense hoor hierdie woorde by ’n huweliksbevestiging en gryp dit later aan as verskoning vir gedrag wat vroue skade aandoen, sonder om die konteks van sulke woorde in ag te neem. Daarteenoor wil die nuwe huweliksformulier albei individue wat tot die huwelik toetree se gelykwaardigheid erken.
Voortgang van die ADV
Sedert Besluit 86 van die 71ste AKV het daar groot onsekerheid geheers onder predikante, kerkraadslede en lidmate oor die toekoms van die Algemene Diakensvergadering. Die 72ste AKV het egter vertroue in die ADV gestel en die mandaat aan die ADV herbevestig om voluit leiding te neem met die Kerk se roeping tot barmhartigheid. Mandate gaan gepaard met verantwoordelikheid. Die Kommissie van die ADV besef hul verantwoordelikheid terdeë. In oorleg met die onderskeie rolspelers en organe van die Kerk, sal hierdie opdrag en roeping op verantwoordelike wyse uitgeleef word.

Dr Gustav Claassen (NGK)

Ds Cassie Aucamp (GKSA)

Ds Oscar Madlala (MRCC)

Die 72ste AKV het ’n kombinasie van ervaring en nuwe bloed verkies. Al die predikantslede van die Kommissie van die 71ste AKV was herkiesbaar, en vier van die ouderlingslede. Die AKV het die voorsitter, dr André Ungerer, herkies as voorsitter. Prof Wim Dreyer dien in die volgende termyn as visevoorsitter, met di Willem Kok en Hannes van der Merwe onderskeidelik as skriba en viseskriba. Die twee ander predikantslede is di Colin Hertzog en Leon Geel (sr).
Die ouderlingslede van die Kommissie van die 71ste AKV wat herkies is, is oudle Faan Beeslaar, Daniël Esterhuizen, André Pieterse en Dries le Roux. Oudl Fred Paynter het vantevore reeds in die Kommissie van die AKV gedien, terwyl oudle Pieter Mulder en Petro van Niekerk as sekunduslede reeds in die verlede verskeie Kommissievergaderings bygewoon het. Oudle Simon Kotzé en Nanette van Staden is nou vir die eerste keer tot die Kommissie van die AKV verkies.
Die nuutverkose Kommissie van die 72ste AKV het direk na afloop van die AKV gekonstitueer, en vergader vir die eerste keer op 21 en 22 November 2019.
Op die foto (links) van die nuutverkose Kommissie van die 72ste AKV is (agter) oudle Pieter Mulder, Fred Paynter, Nanette van Staden, Simon Kotzé, Faan Beeslaar, Daniel Esterhuizen, André Pieterse en Dries le Roux; en (voor) di Leon Geel, Colin Hertzog, prof Wim Dreyer, dr André Ungerer, di Willem Kok, Hannes van der Merwe en oudl Petro van Niekerk.

AKV sitting

Jana Marx (Beeld) en Louwrens Pretorius

Dr Frikkie Labuschagne

Mev Karen Breedt

Dr Wouter van Wyk

Mej Sonet Esterhuizen

Dr Frikkie Labuschagne bedank die personeel van die Sinodale Dienssentrum
