In 1948 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ’n rigtinggewende definisie van “gesondheid” as deel van hulle grondwet aanvaar. Daarvolgens is gesondheid ’n staat van volledige fisiese, psigiese en sosiale welstand, en nie bloot die afwesigheid van siekte of gestremdheid nie.

Die WGO het as deel van die Verenigde Nasies (VN) ontstaan na afloop van die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Die VN se totstandkoming was ’n poging om blywende vrede te handhaaf na afloop van ’n verwoestende magstryd wat talle lewens geëis het. Die WGO is ’n belangrike komponent van die handhawing van hierdie vrede.

Die parallelle met ons huidige situasie is verstommend. In Desember 2019 en Januarie 2020 verneem die wêreld dat ’n virus in China ontstaan het en besig is om te versprei. Ek was daardie week by die Teologiefakulteit in Stellenbosch vir ’n konferensie oor Dietrich Bonhoeffer se teologie. Saans in die gastehuis het ek die nuus dopgehou en gedink: Dit sal ons nie sommer hier in Afrika raak nie. Ek was verkeerd! Ek wonder of ons nou terugkyk na die oomblik toe ons van die koronavirus (of COVID-19 soos dit nou bekendstaan) verneem het en dit vergelyk met die oomblik toe ons verneem het van die terreuraanval op die Twin Towers in New York in 2001? Ons is nou in ’n “oorlogsituasie” en ons land het, soos menige ander, oorlogsmaatreëls ingestel om die virus te bestry. Die WGO is op die voorpunt van hierdie stryd.

Soos ek die ontwikkelende situasie dophou en die uiteenlopende reaksies daarop beleef, kom ek onder die indruk van hoe mense met hulle eie weerloosheid omgaan. In die TIME tydskrif van 30 Maart is daar ’n bespreking oor hoekom mense so dringend toiletpapier aankoop. Die antwoord: Ons kan nie ons liggaam se biologiese prosesse ontduik nie – daaraan is ons uitgelewer. Dit is deel van ons menslike weerloosheid of broosheid. Omdat ons sosiale wesens is wat in gemeenskappe ingebed is, wil ons as “skoon” en “gesond” beskou word. Mense wat nie volgens gemeenskapsdefinisies “skoon” of “gesond” is nie, word dikwels deur hulle gemeenskappe verwerp. Toiletpapier dra by tot daardie standaard van “skoon” en “aanvaarbaar”. Juis hier is die WGO se definisie van gesondheid van belang. In sy werk Ethics of Hope kritiseer die Duitse teoloog Jürgen Moltmann die WGO se definisie van gesondheid. Volgens hom maak dit nie genoeg voorsiening vir menslike broosheid nie. Trouens, dit skep die indruk dat “broosheid” ’n swakheid is. Volgens Moltmann is hierdie definisie dan juis “ongesond”:

The ideal of all-round well-being is a utopia, and not even a particularly humane utopia. It is the utopia of life without suffering, of happiness without pain, and of a society without conflicts … Rather, “health” doesn’t mean the absence of disturbances but the strength to live with them … “health” is the strength to be human in conditions of health and illness … it is the acceptance of life and death in the wide space of God’s presence.

Ons wil eerder weghardloop van ons eie broosheid en weerloosheid. Ons ondersoek aanhoudend maniere om langer te leef. Sosiale media skep ’n bomenslike (onhaalbare) standaard van menslike perfeksie. Met ons absolute geloof in die mediese wetenskap is menslike weerloosheid uit ons verwysingsraamwerk wegvertaal – miskien ook uit ons geloofstaal en ons geloofsverwysingsraamwerk.

Baie gelowiges sukkel met die Lydenstyd. Dit is ’n ongemaklike halte in die liturgiese kalender: Donderdagaand se laaste maaltyd; Swart Vrydag se laaste kers (asem) wat uitgeblaas word; Stil Saterdag se rou; en dan uiteindelik Wit Sondag ’n nuwe horison wat oopmaak. Dit is die ritme van ’n geloofslewe wat God se weerloosheid onthou en tegemoetloop – juis omdat daar krag in daardie aanvaarding lê. Lydenstyd is dié tyd waarin ons bely dat daar krag in weerloosheid is: Jesus gee mag prys. Dit stel Hom in staat om die menslike toestand van boosheid, gebrokenheid en pyn te oorwin. In die ontmoeting met weerloosheid lê die krag om geloofsenergie (hoop) te skep – om te midde van uitdagende en onsekere omstandighede steeds “gesond” te leef.

“Gesondheid” is dan om die lewe, en die dood, in God se wye teenwoordigheid te aanvaar, en die geloofsenergie om ’n begin te vind in wat nou soos die einde lyk.

af
af
Deel met behulp van
Copy link