Sedert 1994 vier ons elke jaar op 9 Augustus Vrouedag. Op 9 Augustus 1956 het ’n groep vroue ’n optog gehou na die Uniegebou om beswaar te maak teen die paswette van daardie tyd. Later het Vrouedag Vrouemaand geword.

Op Nasionale Vrouedag en in Vrouemaand word hulde gebring aan vroue wat groot bydraes gemaak het met betrekking tot vroueregte in Suid-Afrika. Op hierdie dag en in hierdie maand word verder gepraat oor vroueregte, diskriminasie teen vroue en geweld teen vroue.

Name wat genoem word uit die geledere van die heersende regering is onder andere Sophie Williams-De Bruyn, Albertina Sisulu, Lilian Ngoyi en Helen Joseph. Elke groep en party in Suid-Afrika maak in Augustus melding van belangrike vroue en gebeurtenisse wat hul groepering raak.

In hierdie artikel wil ek hoofsaaklik kernagtig handel oor vroueregte en ander aspekte van vrouwees sedert die eerste optog van vroue in die geskiedenis van die Afrikanervolk wat ek kon naspeur.

Dit is opvallend dat die eerste optog deur blanke vroue ook in Augustus plaasgevind het. Met Drienie Joubert (foto hierbo), ook genoem Drienie die Vreeslose, 84-jarige weduwee van genl Piet Joubert, aan die spits, het onder meer Tibbie Steyn en Johanna van der Merwe saam met ongeveer 5 000 vroue wat 65 000 vroue verteenwoordig het op 4 Augustus 1915 opgeruk om ’n petisie aan die Engelse goewerneur te oorhandig vir die vrylating van die generaals en ander persone wat aan die rebellie deelgeneem het. Die Vrystaatse joernalis D Postma het destyds geskryf: …aan hierdie oproep is op vrouwelijke wijse gehoor gegee, sonder redeneer, sonder versuim, sonder berekening van koste of moeite. Die liefde het geroep, die liefde het gehoorsaam.

Tot laat in die 20ste eeu het ons in ’n patriargale sisteem geleef. Die man is gereken as die hoof van die huis, met absolute gesag oor sy vrou en kinders. Die vrou moes te alle tye onderdanig wees aan die man. Hy het onder alle omstandighede die leiding geneem. Die belangrikste funksies van die vrou was om haar huisgesin te versorg, in die behoeftes van die man te voorsien en die kinders op te voed. Oor die algemeen is aanvaar dat hierdie funksionering die natuurlike en Godgegewe is volgens die Bybel.

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is aan die Afrikanervrou die rol van volksmoeder toegedig. Hierdie konsep het in bykans die grootste gedeelte van die 20ste eeu prominent gestaan met betrekking tot vrouwees. Sy is beskou as die sagte versorgende wat die hoeksteen en die krag van die huisgesin en die Afrikanervolk is. Hierdie beskouing het meegebring dat vroue van take in die publieke sfeer uitgesluit is. Vroue wat buitenshuis gewerk het, is selfs gesien as ’n sosiale probleem. Hierdie beskouings was ook die algemene uitgangspunt van die destydse kerke. JD du Toit (Totius) het onder andere ’n kommissie van die GKSA gelei wat hul sinode in 1920 geadviseer het om altyd te protesteer teen vroue stemreg op grond van Gods Woord.

In 1918 het die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boervrou, die lig gesien. Mabel Malherbe, susterskind van Eugène Marais, was die eerste redakteur. Die tydskrif het hoofsaaklik artikels wat betrekking het op vrouwees volgens die beskouings van daardie tyd gepubliseer. In 1921 skryf die suster van JD du Toit  oor die sogenaamde “vrouevraagstuk”. Sy spreek haar sterk uit teen die gedagte dat die vrou slegs volksmoeder en die sogenaamde swakkere geslag is. Sy kry sterk steun van Hansi Pollak, Erika Theron en ander skrywers.

In 1930 is ’n wetsontwerp goedgekeur wat aan blanke vroue stemreg gegee het. Verskeie vroueorganisies het hulle daarvoor beywer – onder meer die Women’s Enfranchisement League, die Vroue Nasionale Party wat in Julie 1915 gestig is, die Nasionale Vroue Vereniging, en die Helpmekaar-beweging wat ook in 1915 gestig is. Voorlopers in hierdie vroue-organisies was Johanna Brandt, Elsie van Broekhuizen en dr Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanssprekende vrouedokter in Suid-Afrika. Die kerke het geswyg, want die vrou hoort in die kombuis en die kinderkamer en nie op ’n openbare verhoog nie. Hoewel wit vroue sedert 1930 stemreg gehad het, was daar volgens prof Hermann Giliomee tussen 1910 en 1974 slegs drie vroue in die Parlement.

Gaandeweg het vroue met die klem op diensbaarheid vir hulself ruimtes geskep waar hulle afsonderlik van mans betekenisvol kon funksioneer. So onstaan in 1904 die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) op inisiatief van Georgiana Solomon en Annie Botha, genl Louis Botha se vrou, die NG vrouediens, die NHSV van die Hervormde Kerk (22 Mei 1940) en ander. Die vroue-organisasies het saam met kerke se diakonieë veral leiding geneem met die oprigting en instandhouding van liggame vir die versorging van bejaardes, kinders, behoeftiges en op baie ander terreine van barmhartigheidsdiens. Dit was veral die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) van die NG Kerk en die Ondersteuningsraad van die Hervormde Kerk wat deur die jare besondere diens gelewer het en steeds lewer. Veral ten opsigte van bejaardesorg het die NHSV baanbrekerswerk gedoen.

Wanneer daar gepraat word oor vroue wat op barmhartigheidsvlak ’n groot bydrae gelewer het, kan die naam van Emily Hobhouse van Engeland nie vergeet word nie. Tydens en na die Anglo-Boereoorlog het sy met haar besoeke aan die vroue in Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe en die insameling van fondse vir ondersteuning aan mense in nood ontsaglik baie gedoen.

In die 1960’s en 1970’s het vroue-organisasies soos Dameskring, Dames Aktueel en Jong Dames Dinamiek hul veskyning gemaak. Hierdie organisasies het begin om vroue te verhef bo die status van bloot huisvrou en tuisteskepper. Die sterk ekonomie het meegebring dat vroue tot ongeveer 1990 hoofsaaklik huisvroue gebly het. Hierdie benaming het geleidelik die begrip volksmoeder verdring. Vanaf ongeveer 1980 het die ekonomiese klimaat, vroue se hoër akademiese kwalifikasies en die invloed van feminisme dit meer aanvaarbaar gemaak dat vroue die arbeidsmark deeltyds of voltyds op feitlik alle terreine kon betree. In daardie stadium het ongeveer 33% van Afrikanervroue buitenshuis gewerk.

Tydens die onderhandelinge vir ’n nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika (1990-1993) het vroueregte ’n groot rol gespeel. Na die verkiesing is begin om die wanbalans wat ten gunste van mans op politieke en ander vlakke bestaan het, reg te stel. Kenners noem die volgende name van blanke vroue wat volgens hulle ’n groot rol gespeel het op politieke vlak rakende vroueregte: Susan Strijdom (vrou van Eerste Minister JG Strijdom), dr Rina Venter, Helen Suzman en Helen Zille.

In ’n reeks aktualiteitsprogramme op TV1 is indringend gekyk na die vrou se rol in tradisionele swart gemeenskappe, Moslemgemeenskappe, die ortodokse Joodse gemeenskap, die Afrikanergemeenskappe en ander kleiner groeperinge in die land. Daaruit het dit duidelik geblyk dat Suid-Afrika weens sy godsdienstige en kulturele tradisies  steeds ’n fundamenteel patriargale samelewing is, maar dat Suid-Afrikaanse vroue geleidelik besig is om hulle van manlike oorheersing los te maak.

Oral in die wêreld het die vrou se posisie verander. Op baie terreine het vroue medeleiers en bestuurders geword. Diskriminasie teen vroue op politieke, sosiale, ekonomiese en kerklike vlakke het afgeneem. Vroue oral in die wêreld het stemreg en inspraak op feitlik alle terreine gekry. Hierdie algemene “ander” beeld van die vrou het via televisie en ander kommunikasie algemene kennis in ons land geword.

Vir baie eeue is vroue as die onderdaniges beskou, die kosmakers en die kindergrootmakers. Hulle het geen belangrike poste beklee nie, nie in die staatsdiens, die finansiële of die besigheidswereld nie, in geen bedryf nie, selfs nie in die kerk nie. Geen vrou kon enige amp of posisie in die kerk beklee nie – hoogstens miskien koster wees. Voor 1970 was daar in die meeste kerke geen vrouepredikante, vroue-ouderlinge of vrouediakens nie. Tot nou die dag was die vroue inderwaarheid die “agtergeblewenes” in die samelewing.

Ons is dankbaar dat die oë van die wêreld mettertyd oopgegaan het. Dat raakgesien is dat vroue, hoewel anders as mans, in baie opsigte oor dieselfde vermoëns as mans beskik. Sekere funksies kan hulle selfs beter verrig as mans. Vandag beklee vroue op feitlik elke terrein van die samelewing net soos mans van die hoogste en belangrikste poste. Veral in die gedrukte en elektroniese media lewer vroue ’n groot bydrae, soos onder andere Lynette Francis, Amore Bekker, Martelize Brink, Magdaleen Kruger en Lourensa Eckard.

Maar is dit nie so nie dat daar nog heelwat diskriminasie teen vroue is met betrekking tot werkgeleenthede, vergoeding en op ander terreine? Lees meer hieroor in ’n volgende aflewering.

*** Met dank aan mnr Nándor Sarkady, argivaris van die NHKA se Kerkargief, vir sy hulp met die navorsing vir hierdie artikel.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap