Vir die afgelope 18 jaar sirkuleer Blitspos weekliks deur middel van e-pos. Tans bereik dit bykans 4 000 individue. Sedert Oktober 2025 het die nuusbrief egter ’n nuwe stertjie bygekry met die naam Blitsflits. Die afdeling Kerklike Kommunikasie het die Hervormde studente en jong predikante byeengebring om die inhoud van Blitspos ook op ’n alternatiewe wyse aan te bied. Dié nuwe formaat bereik nou ook ’n jonger gehoor. Sedert die ontstaan daarvan, het Blitsflits reeds ongeveer 66 000 besoekers op Facebook alleen gelok. Mev Rolandi Mc Geer, een van die aanbieders, beklemtoon dat die relevante aanbieding van Blitsflits die inhoud van Blitspos vir haar meer toeganklik maak.
Blitsflits is kort videogreepopnames wat die hoogtepunte van Blitspos se inhoud oordra in die styl van ’n bondige nuusberig. Blitspos word weekliks op ’n Woensdag afgehandel waarna dit aan die student wat die aanbieding gaan doen, gestuur word. Hy of sy het dan minder as ’n dag om die nodige voorbereiding te doen voordat die opname op die Donderdagoggend by Gemeente Philadelphia plaasvind.
Die studente en jong predikante wat tans deel vorm van die Blitsflitsspan sluit in mnre Albert Matthysen en At Hattingh, mejj Anushke Muller en Lané Trsucott, mev Roland McGeer en ds Zanedrieka de Lange.
Alhoewel die nodige voorbereiding plaasvind, is die oomblik voor die kamera dikwels net te veel! Ligte, kamera en aksie! is ’n proses wat volgens die studente veel eenvoudiger klink as wat dit werklik is. Tongknopery, spontane gelag en soms mismoedigheid tydens die opname vorm dan deel van Blitsflits. Hierdie gebeure is ’n segment wat nou al ’n bekende kenmerk van Blitsflits geword het.
Volgens mej Anushke Muller is dit ’n besondere ervaring wat gevul is met pret en ’n groot hoeveelheid gelag. Sy spreek ook haar dankbaarheid uit vir die geleentheid om deel van ’n produk te vorm wat gemeentelede laat glimlag terwyl sy die nuus en lewe van die Hervormde Kerk met hulle deel. Mnr At Hattingh sluit hierby aan en beskryf sy betrokkenheid as deelname aan ’n groter verhaal waar hy deel vorm van ’n netwerk van mense wat saam bid en saam lief is vir die Here en sy kerk.
Ten spyte van die studente se besige akademiese skedules en die eise daarvan, prioritiseer die Hervies hul betrokkenheid by hierdie aksie om die Hervormde Kerk meer sigbaar te maak. Vir ds Zanedrieka de Lange is dit nie net ’n manier waarop sy haarself op hoogte hou van kerklike gebeure nie, maar ook om net af en toe vir haarself te kan lag. Mnr At Hattingh beskryf sy ervaring soos volg: Elke keer wanneer ek ’n Blitsflitsopname maak, ervaar ek ’n warmte wat moeilik is om te beskryf. Dit is nie bloot ’n nuusflits nie; dit is ’n stem van die breër liggaam van gelowiges en ’n herinnering dat ek nie alleen is in my wandel met God nie. Selfs wanneer my dae met studie en verantwoordelikheid gevul is, bring hierdie kort oomblik my telkens terug na iets wat groter is as my eie lewe.
Dit is vir die Kerk ’n riem onder die hart dat studente op vars maniere die Hervormde Kerk en haar roeping met die wêreld daarbuite wil deel.
(Hooffoto:
Bo van links na regs: Albert Matthysen, Anushke Muller en At Hattingh
Onder van links na regs: Lane Truscott, Rolandi Mc Geer en ds Zanedrieka De Lange)
(Ds Iwana Kruger is leraar in Gemeente Pretoria-Oos en die NHKA se joernalis)