Maar wat sê jý daarvan? wil mense deesdae dikwels van ons weet.

Wat is jou standpunt oor Black Lives Matter? Wat sê jy oor regstellende aksie in die werkplek en kwotas of teikens vir sportspanne? Waar staan jy oor die regte of verteenwoordiging van vroue? Hoekom laat jy nie jou stem hoor oor plaasmoorde of onteiening sonder vergoeding nie? Moet historiese standbeelde uit openbare ruimtes verwyder word? By wie skaar jy jou oor die heropening van skole of besighede na al die inperkings? Het jy al die petisie teen die verbod op die verkope van drank en sigarette onderteken?

Ons kan die lys van sake waaroor daar van ons rekenskap geëis word, amper eindeloos verleng. Dikwels eis mense baie driftig dat ons standpunt inneem. Dikwels met ’n houding van Wie nie vir ons is nie, is teen ons.

Vir baie mense is dit stresvol om standpunt in te neem. ’n Paar kundige persone help ons om die saak beter te verstaan. Om standpunt in te neem, beteken om te kies. Keuses het gevolge. Mense word gedreig, beledig, beswadder en verdag gemaak, sê dr Willie Strydom (Eikenhof/Johannesburg-Suid). Die feit dat ’n standpunt ons verhoudings met ander mense kan affekteer, maak dit vir ons stresvol.

Almal is ook nie op dieselfde tydstip gereed om oor ’n bepaalde saak standpunt in te neem nie. Dalk raak dit hulle nog nie. Dalk het hulle nog nie behoorlik daaroor nagedink nie. Dalk worstel hulle nou eers met ’n ander stryd. Iemand wat teen depressie of ernstige siekte stry, het nie die energie om by protesaksies oor swak dienslewering betrokke te raak nie. Iemand wat worstel met werkloosheid en hongersnood, gee regtig nie om vir monumente nie.

Dr Strydom sê ons is deel van ’n getraumatiseerde samelewing waarin mense magteloos voel omdat soveel aspekte van ons daaglikse bestaan lyk of dit eenvoudig buite ons beheer is. Dr Christo van der Merwe (emeritus) stem daarmee saam en voeg by dat ons sal moet nadink oor die gevaar dat posttraumatiese stres nie net individue nie, maar hele gemeenskappe en ook gemeentes, op die lang duur kan lamlê. Die trauma word tydens die huidige pandemie ook nog vererger deur ’n swetterjoel onsinnige regulasies wat by mense ’n gevoel van magteloosheid en opstandigheid skep.

Die stres wat in baie mense se gemoed broei, hang ook saam met veranderinge in ons samelewing. Waar ouers, die kerk, skool, landswette vroeër vir ons voorgeskryf het presies wat ons moet dink en doen, word daar vandag van elkeen van ons verwag om self oor alles te dink, sienings teen mekaar op te weeg en dan ’n bewuste besluit daaroor te neem, sê prof Yolanda Dreyer (Departement Praktiese Teologie, UP). Sommige mense ervaar dit as bevrydend en gryp die geleentheid aan om standpunte in te neem wat voorheen net nie geduld sou word nie. Ander mense vind dit egter verwarrend en bedreigend, want nou is alles meer relatief en hulle sukkel om ’n eie identiteit te vind. Sulke mense verwag dikwels van “gesagsinstansies” soos die kerk om standpunt in te neem en die onsekerheid te verdryf.

Die druk om standpunt in te neem, speel veral af in die sosiale media wat so eie is aan ons tyd. Danksy die internet en allerlei soekenjins kan ’n mens vandag binne ’n paar oomblikke inligting oor amper enige onderwerp kry. Dr Strydom verduidelik dat mense dit dikwels onkrities as “gesagsbronne” aanvaar en ongekwalifiseerd gebruik om hul eie standpunte te bevestig. Dr Van der Merwe wys uit hoe algemeen vals inligting en fopnuus vandag in die sosiale media is, en watter groot rol populistiese politici en ander sogenaamde kenners en leiers speel om die spanningsvlak in die breë gemeenskap op te jaag. Aan hierdie werklikheid kan ons niks verander nie. Maar juis dít vra weer van mense om vir hulself te dink en fyn te onderskei, sê prof Dreyer.

Dit is ook die uitdaging vir die Kerk. Luister wyd, oordink krities, en gebruik fyn geloofsonderskeiding om te besluit wanneer ons as Kerk in die openbaar standpunte inneem. Daar is soveel uiteenlopende mense in ons Kerk en gemeenskap dat dit onmoontlik is om aan almal se verwagtinge te voldoen. Prof Dreyer waarsku dat die Kerk nie die speelbal van mense se belange behoort te wees nie. Dr Strydom sê dat die Kerk respek vir ander se standpunte moet toon om as fondament vir respekvolle onderlinge verskille te dien. So behoort die Kerk mense te begelei om op die mees geestesgesonde manier met ons werklikhede om te gaan – psigies-emosioneel en spiritueel gesond en volwasse, sê prof Dreyer.

Miskien help ’n bietjie perspektief.  Mense het van Jesus ook gevra om standpunt in te neem:

Met watter gesag doen u hierdie dinge? (Mark 11: 28). Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? (Mark 12: 14). Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u? (Joh 8: 4-5). Wat is die grootste gebod in die wet? (Matt 22: 36).

Die antwoorde wat Jesus telkens op mense se vrae en strikvrae gegee het, moet die riglyne vir ons antwoorde wees. Veral Jesus se antwoord op die laaste vraag hierbo: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ (Matt 22: 37-39).

Daar is baie redes (goeie en minder goeie redes) waarom alle mense nie ewe veel drif het om standpunte in te neem en deel van ’n kollektiewe stryd te word nie. Maar, terwyl dit goed en dikwels nodig is om standpunt in te neem, herinner ek my net een keer toe Jesus sy dissipels gevra het om standpunt in te neem: Wie, sê die mense, wie is Ek? … Maar julle, wie sê julle, is Ek?

Waarop ons sonder huiwering saam met Petrus en die kerk deur die eeue moet antwoord: U is die Christus! (Mark 8: 27, 29).

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link