Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin. (Johannes 16: 33, AFR1983)

Lees Johannes 16: 25-33

’n Paar maande gelede het ons Hemelvaart gevier. In die tyd wanneer ons die hemelvaart van Jesus Christus vier, word ons herinner aan die geskiedenis en die verlede, maar die oorheersende gedagte rondom die hemelvaart is die belofte van die toekoms…

2020 was vir ons elkeen ’n jaar vol uitdagings. Veral vir ons jongmense en die jeug. Die gedagte om totaal afgesny te wees van ons normale sosiale interaksies met ons vriende, hetsy by die skool of sportbyeenkomste, of op kampus, of selfs by die werk, was vir ons ondenkbaar. Baie van ons het swaar gekry om nie sosiaal te kon verkeer nie en nie ons lewens met mense buite ons onmiddellike huisgesin te kon deel nie. Vir party van ons was dit selfs moeilik om saam met ons gesinne vir weke aaneen opgesluit te wees, en het dit dalk stremming geplaas op ons verhoudings.

2021 was tot dusver ook nie maklik nie. Ons kom toe van aangesig tot aangesig met ’n nuwe variant van Covid-19, en by al die spanning daarvan sien ons ook die kriminele aktiwiteite na die protesaksies oor mnr Zuma se tronkstraf.

Dit voel letterlik asof die wêreld aan die brand is, asof ons in ’n land woon waar vrede ’n konsep is wat net in die verlede iets beteken het. Ongelukkig sien die meerderheid van ons land se mense hierdie soort protes as ’n norm in plaas van absolute onreg. Ons raak gewoond aan nuwe “norme” vir hoe dinge in ons samelewing gedoen word.

In die tyd voor Hemelvaart het ek dikwels gedink oor ons nuwe norm, en begin wonder hoe die toekoms gaan lyk. Aan die begin het ek eintlik net aan die negatiewe goed gedink, soos maskers dra waar ons ook al gaan, die irriterende handsaniteerders wat ons by elke winkel moet aanspuit voor ons mag ingaan, en die byeenkomste wat ons eens so vrylik geniet het en wat nou totaal ontoeganklik geword het. Ek het moedeloos gevoel oor die toekoms, en toe lees ek Johannes 16: 25-33.

In dié gedeelte van die Johannes-evangelie is Jesus in gesprek met sy dissipels voor Hy gevange geneem word. Jesus vertel hulle dat Hy die wêreld reeds oorwin het. Vers 33 het veral in my gedagtes geresoneer oor die toekoms. Dit het my laat besef dat ek op die wêreld fokus vir die toekoms, en dat ons nie daarin vrede en normaliteit gaan vind nie.

Dit is slegs by ons Here Jesus Christus dat ons vrede gaan vind. Die troos lê in die wete dat Jesus reeds die wêreld oorwin het en dat ons toekoms en vooruitsigte nie deur dinge wat hier op aarde gebeur, beïnvloed moet word nie. Ons toekoms en vooruitsigte moet spruit uit die vrede en die oorwinning van Jesus Christus oor die wêreld. Slegs wanneer ons so na ons toekoms hier op aarde kyk, sal ons sien dat dit blink met die moontlikhede en geleenthede wat Hy vir ons voorberei.

Bly gesond, bly veilig en wees gevul met die vrede van Jesus Christus.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap