Die gesprek tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), het sy wortels in 1943 met ’n interkerklike skakelkomitee. In 1955 is die Tussenkerklike Kommissie amptelik in die lewe geroep, met drie sake op die agenda: kerklike eenheid, gemeenskaplike sake en samewerking. In Februarie 2004 kom die Tussenkerklike Raad (TKR) tot stand. Die fokus het wegbeweeg van die aanvanklike, grootliks onsuksesvolle pogings om die kerke institusioneel te verenig en het verskuif na ’n struktuur wat op praktiese samewerking, gesamentlike getuienis en die hantering van gemeenskaplike maatskaplike en teologiese sake gerig is.
Die TKR het tot in 2017 jaarliks vergader. Dit het bestaan uit lede van die Moderamen van die Algemene Sinode van die NGK, die predikantslede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA en predikante van die GKSA. Sinvolle, krities-opbouende gesprekke is gevoer en die onderlinge terreine van samewerking is telkens behandel. By verskillende geleenthede het die kerke ook gesamentlik teenoor die owerheid getuig, onder meer oor wetgewing en maatskaplike krisisse. Verskeie openbare verklarings en ope briewe is aan die regering gerig.
Tussen 2017 en 2026 het geen amptelike gesprek op TKR-vlak plaasgevind nie. Dit het al hoe duideliker geword dat die histories komplekse verhouding die gesprek laat stol het. Verskille in Skrifinterpretasie en hermeneutiek, kerkreg en liturgie, asook teologiese standpunte oor byvoorbeeld selfdegeslagverhoudings en vroue in die amp, het die gesprek by wyse van spreke tot stilstand gebring. Die onderskeie kerke se siening oor ekumeniese bande het vrae laat ontstaan oor die aard van dié bande en het selfs daartoe gelei dat sommiges van die gesprek uitgesluit is. Die indruk het ontstaan dat ’n gesprek onmoontlik is wanneer iemand nie met jou saamstem of nie jou uitgangspunt deel nie. Op die plaaslike gemeentevlak is die uitdaging dat sinodale besluite samewerking bemoeilik en dikwels positiewe, opbouende verhoudings en samewerkingsgeleenthede beëindig.
Amptelike samewerking tussen die NHKA en NGK word in ’n bilaterale ooreenkoms vervat. Lidmate kan met vrymoedigheid nagmaalgeleenthede van albei kerke bywoon en lidmaatskap word wedersyds erken en aanvaar. Teologiese opleiding vind in ’n groot mate gesamentlik plaas, ten minste wat die akademiese deel betref, terwyl elke kerk vir sy eie kerklike opleiding verantwoordelik bly. Ingevolge die bilaterale ooreenkoms kan predikante van die twee kerke oor en weer beroep word. Geen soortgelyke ooreenkoms bestaan tussen die NHKA en die GKSA nie. In die GKSA se beskouing van ekumeniese bande met die NHKA plaas die GKSA die verhouding hoogstens op die vlak van kontak. Die eerste vlak is volledige eenheid in Skrif, leer en diens; daarna volg bande van samewerking en, derdens die ekumeniese kontak.
Die memorandum van ooreenkoms tussen die NGK en die GKSA wat sedert 2015 gegeld het, is tydens die GKSA se sinode van Januarie 2026 opgehef, hangende gesprek met die NGK oor besluite van die Algemene Sinode. Uit die Acta van die afgelope algemene sinode van die GKSA blyk dit dat die GKSA eerder met faksies in die NHKA en NGK gesprek voer as met amptelike verteenwoordigers van die twee susterskerke.
Teen hierdie agtergrond het die NHKA en NGK ernstig daarop aangedring dat die gesprek hervat word. Verskeie uitnodigings is aan die onderskeie kerke gerig, en op 1 September 2026 is ’n gespreksgeleentheid met die NHKA as gasheer gereël.
’n Kleiner groep verteenwoordigers van die kerke het byeengekom om vier sake te bespreek:
- Die GKSA verduidelik die besluite van haar sinode aan die ander twee kerke.
- Ons bespreek die implikasies van daardie besluite vir samewerking.
- Ons praat oor die toekoms van die TKR.
- Die GKSA en NGK praat oor hul bilaterale ooreenkoms.
’n Openhartige en indringende gesprek het gevolg. Die uitvloeisel van die GKSA se besluite oor vroue in die amp, wat reeds in 2009 en weer in 2023 bevestig is, het ter tafel gekom. Op die vraag hoe GKSA-gemeentes wat vroue wel tot die amp van ouderling toelaat, hulle van die kerkverband losmaak, is geantwoord dat dié gemeentes strydig met ’n sinodebesluit handel. Die mening is uitgespreek dat die NHKA en NGK se sinodebesluite, wat sonder konsultasie met die GKSA geneem is, de facto reeds bande en samewerking beëindig het. Daar is ook gestel dat die GKSA se verstaan van die Woord van God anders is. Verskeie ander aspekte het ter tafel gekom. Die onderneming is gegee dat die kerke met mekaar in gesprek moet bly omdat hulle medegelowiges in mekaar herken.
Daarom is die opskrif: Tussenkerklike Raad: Quo vadis? Is die TKR nog ’n doeltreffende gespreksforum? Wat is die doel en rigting van die gesprek? Gelowiges moet met mekaar praat, maar wat is die vertrekpunt en mikpunt?
Hoewel dit ’n kerklike en, meer spesifiek, ’n geloofsgesprek is en moet wees, kan Paul Grice se vier hoofbeginsels van goeie kommunikasie daarop van toepassing wees:
- Die beginsel van kwaliteit;
- Die beginsel van kwantiteit;
- Die beginsel van relevansie;
- Die beginsel van wyse.
Die eise wat aan die kerke gestel word en die uitdagings waarvoor hulle staan, vereis dat ons die waarheid met mekaar praat. Ons moet oor die feite van elke saak praat en nie bloot oor die weergawe wat in die media berig word nie. Ons moet eerlik wees en ons mag nie vanuit ’n beterweterige perspektief praat nie. Laat ons mekaar erken en aanvaar as mense wat een is in Christus. Hy is die Heer en die Hoof van die kerk. Elke deelnemer aan die gesprek moet hom of haar verbind tot die woorde van Paulus in Kolossense 3: 16: Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing (AFR2020).
(Ds Leon Geel is die voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en leraar van Gemeente Midstream)