Die Covid-19-pandemie het nie net Bybelverspreiding in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld erg geraak. Bybelgenootskappe wêreldwyd kon nietemin daarin slaag om 30 miljoen volledige Bybels te versprei in 2020.
Meer as 190 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes wat Bybels, Nuwe Testamente, Evangelies en kleiner Bybelgedeeltes en -seleksies insluit, is wêreldwyd versprei. Dit is die boodskap van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe wat bestaan uit 150 Bybelgenootskappe wat in 240 lande en gebiede werk. Bybelgenootskappe is vir bykans 70% van die wêreld se volledige Bybelvertalings verantwoordelik.
Die verspreiding van volledige Bybels het met 37% afgeneem in vergelyking met 2019. Daar was ’n 63%-daling in die verspreiding van Nuwe Testamente. Die aflaai van Bybelmateriaal van die internet het egter met 113% gestyg, jaar op jaar. Dit strook met die toename in aanlyn aktiwiteite en het gevolglik daartoe gelei dat meer mense die Bybel aanlyn gelees het.
Ondanks die afname in verspreiding, het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika daarin slaag om 596 632 volledige Bybels in verskillende formate in die 2020 finansiële jaar te versprei. Die getal gedrukte Bybels, wat Braillebybels en Oudiobybels insluit, het op 403 666 te staan gekom. Dit is ’n afname van 37,6% gemeet aan die vorige jaar.
Die Covid-19-pandemie het ons bedrywighede belemmer, maar danksy die Here se genade kon ons met ons werk voortgaan. Ons betuig ons dankbaarheid aan elke verspreider wat ons Bybels verkoop asook al ons ondersteuners vir hul onverpooste ondersteuning tydens hierdie moeilike tye, het ds Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, gesê.
Ondanks al hierdie uitdagings was die Bybelgenootskap van Suid-Afrika steeds bevoorreg om drie nuwe volledige Bybels – The English Bible for the Deaf, die isiZulu Bybel 2020-vertaling, en die Afrikaanse Bybel 2020-vertaling – te kon bekendstel.
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
