Die nuutverkose voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) het onlangs wesenlike lewensveranderings ervaar. Te midde van verandering bly sy diepgaande vertroudheid met die Kerk ‘n konstante. Die Kerk ken my en ek ken die Kerk. Ds Leon Geel (sr) vertel ná afloop van die erediens wat hy tydens die opening van die Sinodale Dienssentrum op 20 Januarie gelei het en waarvoor hy spesiaal tyd ingeruim het, meer hieroor.
Sy openingsboodskap het die personeel aangespoor om opnuut vertroue in hul bekwaamheid te hê. Dit is dieselfde woorde wat hom óók in hierdie nuwe fase van sy lewe bemoedig. Dalk het ek dié preek vir myself geskryf, grap hy. Hierdie verandering het amptelik op 1 Maart in werking getree met sy bevestiging in Gemeente Midstream. Hy en sy vrou, Marianna, is opgewonde oor hierdie nuwe avontuur.
Ds Leon het op ’n plaas tussen Standerton en Morgenzon grootgeword as een van vier kinders. Dit is op dié plaas waar hy van kleins af vir sy ouers, en af en toe vir die skape ook, vertel het dat hy ’n predikant gaan word. Hierdie oortuiging, waarmee hy van kindsbeen af geleef het, skryf hy aan sy ouers toe. Hy vertel hoe hul plaas ongeveer 33 km uit die dorp was, maar dat kerkbywoning nooit opsioneel was nie. Dit was in hul weeklikse roetine ingeweef.
Op 17 Januarie 1981 arriveer ds Leon sak en pak in Pretoria as ’n opgewonde eerstejaar teologiestudent. Hy word op 3 Mei 1987 in Gemeente Potchefstroom as predikant georden en beskryf dit as ’n besondere leerskool onder die leiding van ds Willem Kok. Dit was – en is steeds – ’n suiwer roepingsbewussyn. Dit is ook waarom hy sy pligte as voorsitter so ernstig opneem. Hy verduidelik: Miskien is ek so bietjie oordrewe, maar ek gaan dit aanpak met my hele hart.
Dit is dalk ook die aanloop na hierdie voorsitterstoel wat bygedra het tot dié ywer. In 2010 word ds Leon vir die eerste keer tot die Kommissie van die AKV verkies. Daarna, in 2013 het hy en prof Wim Dreyer meegeding om die voorsitterskap met prof Dreyer wat verkies is. In 2019 word ds Leon weer tot die Kommissie van die AKV as predikantslid verkies. En in 2022 is die voorsitterskap wéér tussen hom en prof Wim Dreyer, maar hy onttrek uit die verkiesing. Ek het gevoel ek is dalk nie bekwaam genoeg nie, erken hy. In Augustus 2023 word hy met kanker gediagnoseer. Hy vertel dat hy toe besef het waarom hy nie gereed gevoel het nie – hy sou nie die voorsitter kon wees wat die Kerk nodig gehad het nie. Hy sou nie beskikbaar kon wees nie.
Maar toe kom die AKV van 2025 en hy word as voorsitter verkies. Dit was ’n gebeurtenis wat lank in wording was en ook baie emosie opgewek het. Hoe wil God hê moet jy hom dien? Sy antwoord kom binne die konteks van sy nuwe pligte: Deur beskikbaar te wees vir die werk waartoe ek verkies is. Sy beroep na Gemeente Midstream op ’n deeltydse basis sal hom ook toelaat om beskikbaar te wees vir God se roeping.
Dit is die Kerk se gebed dat elkeen opnuut geïnspireer sal word deur ds Leon se ywer. Mag ons ook in ons lewens streef om beskikbaar te wees vir die werksaamhede waartoe ons geroepe is.