Baie mense dink God se wil is onveranderlik. Hulle dink God het aan die begin ’n meesterplan uitgewerk wat vir ewig vas staan. Maar is dit so?
’n Tienjarige dogtertjie is deur ’n roekelose dronkaard doodgery. Iemand troos die ouers met die woorde: Julle kan rustig wees. Dit was die wil van die Here. Niks gebeur as dit nie sy wil is nie. ’n Ander probeer troos met die woorde: As ’n mens se strepie getrek is, dan kom jy nie daar verby nie. Verontwaardig vra die ouers my: Dink Dominee regtig ons dogtertjie is 10 jaar gelede gebore om nou deur ’n roekelose dronkaard doodgery te word?
Baie mense dink God se wil is onveranderlik. Hulle dink God het aan die begin ’n meesterplan uitgewerk wat soos ’n CD afloop en niemand kan daar iets aan doen nie. Dit staan vir ewig vas. Whatever will be, will be sing ons. Alles, ook my sterwensdag, is van die begin af deur God vasgestel en ek sal presies op daardie dag en daardie minuut sterwe. Baie mense sê: Jou strepie is getrek en jy kan maak net wat jy wil, jy sal nie daarby verbykom nie.
As ’n mens hier en daar ’n teks uit die Bybel neem sonder om die agtergrond of die konteks in berekening te bring, kan jy miskien by so ’n standpunt uitkom, maar dit is nie hoe ons die Bybel gebruik nie. As die Bybelse boodskap as geheel in aanmerking geneem word, sal ons agterkom dit is nie so dat God aan die begin alles en almal se lewensverloop bepaal het en dat alles nou presies so verloop nie.
Kom ons noem ’n paar voorbeelde:
- Die Israeliete beland in Egipte en word slawe. Was hierdie verslawing en lyding in Egipte aanvanklik God se plan toe Hy hulle uitverkies het? (Gen 45: 1-13)
- Was dit die aanvanklike wil van God dat die Israeliete eers vir 40 jaar in die woestyn moes swerf voordat hulle die beloofde land ingetrek het? (Num 13: 26 – 14: 24)
- Hiskia was besig om te sterf. Hy bid, en die Here verleng sy lewe. As sy strepie vooraf getrek is en dit het vas gestaan, sou dit beteken hy kon net soveel bid as wat hy wou en die Here sou nie sy lewe verleng het nie? (2 Kon 20: 1-6)
- Was dit die wil van God dat Job in een nag al sy besittings en tien kinders moes verloor? (Job 42: 9-17)
Kom ons vra ook ’n paar algemene vrae:
- Het dit in God se ewige raadsplan opgeteken gestaan dat sesmiljoen Jode deur Hitler en sy magte om die lewe gebring moes word?
- Het God van die begin af beplan dat miljoene mense in oorloë, pandemies en tsoenami’s moes sterf?
- Het God van die begin af beplan dat ons soms moet swaarkry en ly?
Die antwoorde is voor die hand liggend.
God is altyd in beheer, maar naas Hom speel die mens se keuses en allerlei ander faktore ook ’n rol.
God se wil, sy besluite, kan verander, maar sy liefde bly onveranderlik. Dit staan altyd vas (Ps 103: 17). Hierdie liefde het vir ons sigbaar geword deur Jesus wat voor die grondlegging van die wêreld uitgekies is om vir die hele mensegeslag se sonde te betaal aan die kruis van Golgota, en die mens te versoen met God (Ef 1: 3-14). Dit is net God se verlossingsplan deur Jesus wat vir ewig vas staan.
Ons lewe, ook ons einde, is in God se hande. Maar wanneer en hoe dit sal gebeur, weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat God se liefde onveranderlik is. In voorspoed en teëspoed, tydens oorvloed en gebrek, voor Covid, tydens Covid en lank na Covid, oral en altyd, onder alle omstandighede, is God my Vader, Jesus my Verlosser, die Heilige Gees my Begeleier en Vertrooster.
In die hande van hierdie God is ek veilig vir tyd en ewigheid, in lewe en in sterwe.
Lees in die volgende twee aflewerings oor God se wil en my besluite; en Covid-19 en die wil van die Here.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)