Johannes 2: 1-12
Jesus, sy moeder en die dissipels is gaste by ’n bruilof in Nasaret. Iewers tydens die week se feesvieringe het die wyn opgeraak. Vir die bruidegom se vader was dit nie net ’n groot krisis nie, maar ook ’n verleentheid. Nie net sou hy sy familie in die skande steek nie, maar die mense sou begin wonder of die seun werklik vir die bruid sal kan sorg.
Gelukkig het Jesus se moeder bewus geword van die gasheer se probleem en dat iets daaraan gedoen moet word. So nader Maria vir Jesus vir sy hulp, maar sy antwoord is verrassend toe Hy vir haar sê dat sy tyd nog nie gekom het nie. Asof daar ’n plan of skedule was wanneer Hy Homself as Seun van God kan openbaar.
Tog het Jesus toe die water in wyn verander. Sommer baie wyn – ses klipkanne vol. Boonop was dit lekker wyn. Die seremoniemeester was selfs vol komplimente omdat die beste wyn vir laaste gehou was.
Uit hierdie gelykenis of eerder teken soos Johannes dit beskryf, leer ons iets van Jesus ken. Hy is ’n Man van oorvloed –oorvloed liefde, genade en sorg. Ja, Jesus het gekom sodat ons ook die lewe in oorvloed kan hê.
Wat maak ons met hierdie lewe? Betoon ons ook liefde, sorg en deernis met ander soos Jesus? Help ons ook ander in hul nood soos Jesus die gasheer in sy nood en verleentheid gehelp het en staan ons steeds in verwondering oor Jesus se teenwoordigheid en wonders in ons lewe?
Gebed
Dankie Here dat U vir ons lief is en weet wat ons nodig het. Dankie vir U oorvloedige genade wat ons daagliks so onverdiend uit u hand ontvang. Leer ons Here om ook deernis met ander te hê en wanneer ons ander help, dit sonder bybedoelings sal wees.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes