Johannes 3: 1-17 (AFR53)

Wanneer iets traumaties met ’n mens gebeur is dit asof jou verstand sukkel om dit te begryp en te glo. In Johannes 3 ontmoet ons Nikodemus, ’n gerespekteerde Fariseër en ’n leier van die Jode, ’n soeker na die waarheid. Hy kom in die nag na Jesus en erken Jesus se goddelike oorsprong: Rabbi, ons weet dat U ’n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan die tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie (Joh 3: 2). Nikodemus, hoewel intellektueel nuuskierig en geestelik ernstig, word gekonfronteer met ’n waarheid wat sy begrip oortref.

Jesus stel dadelik ’n radikale konsep bekend: Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Joh 3: 3). Die Griekse woord vir weer beteken ook van bo, wat ’n goddelike, bonatuurlike oorsprong beklemtoon. Nikodemus vra hoe ’n ou man ’n tweede keer gebore kan word. Jesus verduidelik dat hierdie geboorte uit water en Gees is en onderskei tussen fisiese geboorte en geestelike wedergeboorte deur die Heilige Gees wat so geheimsinnig en ongesien is soos die wind.

Die kernboodskap van die evangelie word duideliker. Jesus verwys na die verhaal van Moses wat die slang in die woestyn oplig (Num 21: 4-9) as ’n voorafskaduwing: …so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3: 14-15). Hierdie spanning tussen dood en lewe beklemtoon die rol van geloof. Die gedeelte vloei uit in die stelling: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3: 16). Hierdie goddelike liefde uitgedruk deur opoffering bied verlossing van veroordeling aan almal wat glo, en demonstreer die transformerende krag van God se lig in ’n wêreld wat geneig is tot duisternis.

Lydenstyd herinner ons aan die noodsaaklikheid van ’n geestelike wedergeboorte. Jesus roep ons tot ’n dieper, bonatuurlike transformasie deur die Heilige Gees.

Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB