Esegiël 37: 1-14 (AFR2020)
Terwyl Esegiël so tussen die bene rondloop, vra God vir Esegiël: Mensekind, kan hierdie beendere leef? Esegiël antwoord: Nee, Here, dis menslik onmoontlik en daarom weet slegs U of hierdie bene weer lewendig sal kan word. Na hierdie vraag sê die Here vir Esegiël dat hy vir die bene moet sê om lewend te word. Met die hoor van die woord van die profeet af, gebeur iets: Die bene skuif weer na mekaar toe en word oorgetrek met senings en vel. Toe kom die Here weer na Esegiël toe en sê vir hom: Sê vir die Gees om in hierdie mens in te gaan. En toe Esegiël dit doen, gaan die Gees in almal in, en hulle staan regop.
Wat het hier gebeur? As ons die gedeelte teen die agtergrond van die ballingskap lees, sien ons dat die volk eintlik dood was. Hulle het gevoel God is weg. Daar is nie weer kans tot lewe nie. Toe kom God en gebruik ’n mens, sy profeet, om twee dinge te doen. Sy Woord te verkondig dat daar lewe in God is, en tot God te bid om sy Gees weer uit te stort. Hierdie optrede van Esegiël het twee gevolge. God se volk het weer begin lewe, en almal het besef dat die Here God is. Daar waar sy Gees mense vul, kom verandering en kom daar weer lewe, kom daar hoop. Dit is die boodskap wat Esegiël vir ons het. Daar waar sy Woord verkondig word, en waar sy Gees hierdie woord op mense se harte laat val, daar kom lewe.
Hierdie gedeelte herinner ons dat ons binne ons gemeenskappe moet aanhou getuig van die Woord van God wat lewe gee. Die wonderlike ding is dat die krag wat ons kry om die woord van God uit te dra, ook van die Gees afkom. Ons moet die Woord verkondig sodat daar ook deur ons woorde en dade en deur die krag van die Gees, lewe kan kom.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank