Johannes 14: 4

En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan (Joh 14: 4).

In die tyd voordat ons die luukse van ’n Globale Posisioneringstelsel (GPS) op ons selfone of in motors gehad het, was dit noodsaaklik om vooraf deeglik die roete na ’n onbekende bestemming te ken. Soms het ’n vriend wat die pad goed geken het, jou stap vir stap verduidelik. Ander kere moes jy ’n kaart bestudeer, rigtingwysers neerskryf en fyn oplet na elke afdraai. ’n Goeie kollega sou sê: Ons volg die stem van die tannie op die maan blindelings na.

Jesus se voete was stewig op aarde toe Hy vir sy dissipels sê: Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan. Ons kan ons voorstel hoe hul oë vraend op Hom gerig was. Hoe sal ons die pad ken? En nog verder: Ons sukkel reeds om ’n prentjie van die plek te vorm – laat staan nog die roete daarheen. Die openingswoorde van Johannes 14 wys dat Hy hul onrus ken: Laat julle harte nie ontsteld wees nie; glo in God, glo ook in My. Jesus wéét dat sy pad Hom deur lyding en dood sou lei. Tog bied Hy hulle troos en sekerheid: daar is ’n plek in die Vaderhuis, en Hy gaan om dit voor te berei. Die plek het ’n vaste adres en die reisigers daarheen is nie op ’n verlore-ek-verdwaal-roete nie.

Deur vir die dissipels te sê: Julle ken die weg, verwys Hy nie na geografiese kennis of ’n duidelike roetekaart nie. Dit gaan oor ’n verhouding en vertroue. Om die Weg te ken, beteken om Jesus self te ken — die een wat lei, wat ons voorberei en wat sy volgeling nie aan hulself oorlaat nie.

Ook ons leef soms met ontstelde harte, onseker oor die volgende tree op ons lewenspad. Ons soek ’n GPS vir elke besluit. Maar Jesus se woorde herinner ons: jy hoef nie elke draai vooruit te sien nie; jy hoef net die Wegmaker te ken. Vertrou Hom, volg Hom – want jy ken reeds die Weg.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege