Jeremia 31: 26-34
Jeremia bring hierdie belofte na die volk in ballingskap. Die Here sou nie net weer die volk terugbring en alles sou wees soos dit was nie. Die Here sou met hierdie volk oorbegin. Hy beloof dat Hy in die toekoms ’n nuwe verbond met die volk sal sluit, maar hierdie keer anders. Hierdie keer sou Israel verstaan dat die verbond nie oor reëls en regulasies gaan nie. Dit gaan oor God en sy liefde en genade. Hierdie keer sou die Woord van die Here nie op kliptafels geskryf word nie, maar op die harte van sy kinders.
Hulle sou Hom nie meer gehoorsaam omdat daar reëls van buite is wat dit afdwing nie, maar omdat daar ’n gesindheid in die hart is wat hulle dring. Dit begin hier met ’n belofte. Hierdie belofte sluit ook in dat dit wat agter lê, vergewe sou word. Vers 34 sê: Ek sal jul oortredings vergewe en nie meer aan jul sondes dink nie. ’n Nuwe begin.
Ons weet dat hierdie belofte van God nie net in die tyd van Jeremia gegeld het nie, maar deur die geskiedenis gegroei het tot dit in Christus sy hoogtepunt bereik het. In Christus het God uiteindelik sy plan met die wêreld duidelik kom wys. In Christus bereik die nuwe verbond sy hoogtepunt. Dink net hoedat Jesus die nuwe wet kom verkondig het. Die wet wat nie net oor die letter gaan nie, maar oor die gesindheid van die hart. In Christus word die vergifnis wat God beloof het, so ’n duidelike werklikheid. God se volk, wat nou elkeen is wat glo, het God lief omdat Hy liefhet en genadig is. Dit dring ons nou tot gehoorsaamheid.
Gehoorsaamheid wat uit die hart kom. Christus kom, en Hy sterf aan die kruis sodat ons skuld vergewe kan word en ons die nuwe volk van God kan word, wat uit dankbaarheid kan leef uit God se Woord wat deur sy Gees op ons harte geskryf is. Toets jou lewe daagliks: Leef jy vanuit sy liefde?
Ds Manda le Roux, Weskus