Romeine 8: 26-27 (AFR2020):J 

So kom die Gees ons in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.

Toe ek in ’n stadium ’n donker, baie verlate en eensame ervaring gehad het, was dit vir my moeilik om te bid. Ek kon net nie by Hemelse Vader verbykom nie, dan droog die woorde op. Hieroor het ek geweldig skuldig gevoel en ek het begin wonder of ek my geloof verloor het. ’n Geliefde kollega het vandag se teks vir my geïnterpreteer. Ou Daaf, het hy gesê, God het jou so lief dat daar waar jy nie (meer) kan bid nie, Hy namens jou bid!

As ons swak is, kom die Gees van God ons te hulp. Soms kan ek nie bid nie, ander kere bid ek vir die verkeerde goed … en dan kom die Gees en neem my gebrekkige poging en, omdat Hy presies weet wat ek behoort te bid, bid Hy namens my die perfekte gebed. Só tree die Heilige Gees vir ons in. Só lief het God ons!

In oomblikke wanneer woorde misluk en begrip wankel, verseker ons teks ons dat die Gees, wat in ons woon, ons help om met God te kommunikeer. Ons gebede is so gebrekkig en soms vreeslik op onsself gerig. Maar die Gees het empatie met ons en deur Hom is God intiem by ons betrokke. Hy ken ons hart se diepste verlangens en behoeftes, en selfs wanneer ons nie ons behoeftes in samehangende woorde kan uitdruk nie, tree die Gees vir ons in. Watter troos en versekering! Selfs in my rouste oomblikke, waar my woorde krom en skeef en bewerig uitgestotter word, verstaan die Gees presies wat ek eintlik nodig het en eintlik moet bid … en vertolk Hy dit.

Ds Dawie Jacobs, Emeritus