Lukas 3: 7-18
Vandag se teks nooi ons uit om te dink oor die waarde van ’n nuwe lewe deur ons verbintenis aan God. Die enigste manier om die oordeel wat kom vry te spring, is om die nuwe lewe in God aan te gryp. ’n Lewe wat getuig van God se regering en koningskap. Dit tref hoe Lukas die roeping van Johannes beskryf as dat die woord van God tot Johannes gekom het (Luk 3: 2). Johannes se prediking is ernstig en wys sy gehoor daarop dat hulle seggenskap op hul tradisie en geskiedenis met Abraham nutteloos sal wees juis omdat God mense soek wat van harte verander het. Die hartklop van Johannes se belydenis is dat Christus die Verlosser is. Al die waarskuwings en vertellings in Johannes se prediking het mense nuuskierig gemaak. Dalk is Johannes die Verlosser, dalk is Johannes die een oor wie geprofeteer is? Johannes bely dat slegs Jesus die Here is. Hy is sy “meerdere” en Johannes is nie waardig om eens sy skoene los te maak nie.
Om die dringendheid van die oordeel asook die nodigheid vir bekering te demonstreer, gebruik Johannes twee beelde: die byl wat reeds teen die boom lê om dit enige tyd af te kap, en dié van vuur.
Tog was daar mense wat die evangelie aanvaar het. Die reaksie daarop is dat mense in groot getalle uitgegaan het om deur Johannes gedoop te word. Dit is goeie nuus. Die evangelie val nie op dowe ore nie. Die boodskap van hoop en bekering, van vergifnis en nuwe lewe, het ’n groot hoeveelheid mense se harte aangeraak.
Hoor ons nog die evangelieboodskap? Of vra ons vrae, betwyfel die inhoud, soek ander opsies, redenaar saam met die wêreld en reduseerdie evangelieboodskap? Ons lewens getuig ook van vasval. Ons is ongehoorsaam en doen dinge wat ons op ons knieë dwing. Tog praat die Heilige Gees telkens weer met ons en kan ons deur bekering reageer. Getuig ons vrugdra van versoening met God, mededeelsaamheid, medemenslikheid, eerlikheid, liefde, verantwoordelike optrede, naasteliefde en tevredenheid?
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth