Levitikus 11: 13-18 (AFR2020)
Wie onthou die radiovervolgverhaal Dans van die flamink wat later ’n fliek geword het? Telkens kom dit by my op wanneer ek op my staptog die flambojante skouspel van die grootflaminke in die Milnerton-strandmeer sien. Die verskyning van die grootflaminke in die monding van die strandmeer gebeur na erge besoedeling van dié waterbron. Wanneer hierdie flambojante voëls ritmies trap en kos opdiep, staar ons in verwondering.
Ons lees in die Bybel van voëls in hul ryke verskeidenheid. Flaminke, volstruise, pelikane, ooievaars en reiers was aanvanklik in die lys van diere met vlerke wat as onrein beskou is en nie geëet mag word nie. In ’n voetnota van die 2020-vertaling by vers 13, word aangedui dat die name van sommige voëlsoorte onseker is. Daarom is bogenoemde nie in dié vertaling nie. Arende, breëkoparende, aasvoëls en jakkalsvoëls het wel behoue gebly. In die Bybel is die arend simbool van krag, spoed, uithouvermoë, ensovoorts. Dié groot roofvoël word ook met God se sorg en versorging geassosieer. Soos ’n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die Here hom gelei (Deut 32: 11).
Ons lees in Genesis 1: 26 die opdrag aan die mens: …heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg. Wat verstaan ons daarvan? In watter mate het ons ’n bedreiging geword vir die diereryk van die skepping? Daar was redes waarom sekere diere aanvanklik nie geëet moes word nie. Maar waar lê ons verantwoordelikheid in ons omgang met die skepping – of ons daarvan eet of dit gewoon net geniet om na te kyk en daardeur geïnspireer te word?
Ons sing ’n nuwe lied tot u eer. Ons loof u Naam, o Skepperheer,
U heers oor aarde en hemel.
Die visse en die diere van die see besing die Skepper wat die lewe gee,
want die aarde behoort aan die Here; dis Hy wat heers oor al wat lewe.
(Gesang 460: 2)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad