Esegiël 37: 1-14
Die profeet Esegiël sien ’n gesig van die Godsvolk in ballingskap, naamlik ’n laagte vol dooie, verdroogde beendere. Dan gee die Here die opdrag dat die profeet vir die beendere moet profeteer en as hy dit doen, kom daar skielik weer lewe in die dooie beendere. Esegiël was hieroor aanvanklik skepties en antwoord nie bevestigend en gelowig op God se vraag of nuwe lewe vir die dooie beendere moontlik is nie.
Ons gebruik die woordjie dood gereeld. Ons sê, iets in my het doodgegaan, of ons liefde vir mekaar is dood, ek is tot die dood toe moeg of ek is doodbang vir wat kan gebeur. Dit is tekenend van hoe ons voel, dat daar geen verkwikking, geen omdraai of nuutheid meer kan wees nie. Soms voel ons nie net hierdie doodsheid nie, maar is die instrumente daarvan. Ons help ’n gevoel van doodsheid versprei. Meermale is ons daaraan aandadig dat ander so voel. Soos Esegiël, illustreer ons ook ’n skeptiese houding wat in wese ongeloof is. Ons leef in die teenwoordigheid van God, die Lewegewer, maar glo nie regtig daar kan nuwe lewe wees nie. Tog bely die kerk: Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker…
Wat is u vorm van dooie beendere? Miskien ’n verhouding, ’n lewensingesteldheid, of iets anders. Ons aanbid die God van lewe en van nuwe lewe. Ons aanbid die Skepper en Herskepper. Dit kan nuut wees! Glo dit. Aanvaar dit. En begin weer om waarlik te lewe!
Gebed
Here, Iaat die heerlike nuutheid en herskepping van u Heilige Gees ook my lewe aanraak en my weer Iaat lewe. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort