Josua 3: 5-11 en 17

Josua 3: 3 vertel van die verbondsark. ’n Heilige kis wat deur Besaleël van doringhout gemaak is.

Dit is die tydperk van ’n nuwe begin vir Israel. Die eerste fase waar hulle die beloofde land moet binne gaan. Met ’n prosessie, die priesters wat die verbondsark dra, vertrek die Israeliete vanaf Sittem na die Jordaanrivier. Hulle moet letterlik ’n vol Jordaanrivier oorsteek en dit is oestyd. Ons sien die wonder wat plaasvind.

Josua het die leierskap by Moses oorgeneem. Hy kry bepaalde opdragte van God. Die volk moet hulself reinig. Hulself voorberei soos met die Sinaigebeure waar God in sy grootheid verskyn het. ’n Soort geestelike voorbereiding en hulself instel vir wat voorlê, die wonderdaad van God. Die priesters moes vooruit met die verbondsark.

Josua moes sê wat die priesters moet doen en dit moet ’n geloofsdaad wees. Vir die volk was die boodskap dat God in hulle midde is met die verbondsark. Hy is Jahwe, die lewende God. Israel het net een God, God sal die volke verjaag en omdat Hy die lewende God is kan Hy dit doen. Die ark met Israel wys dat God van die verbond, self die Jordaan oorsteek en by hulle is. Toe die volk hulle moes heilig, moes hulle uiterlik skoonmaak en innerlik voorberei op die openbaring van God in sy almag as Skepper, as hul God, die enigste en ware God. Hulle heiliging was voorbereiding op sy openbaring. Hulle het hul harte tot Hom gehef.

In hierdie Epifanietyd gaan ons oë oop vir die wonderwerk: die geboorte van Jesus Christus. Die hele lewe en bediening van Jesus, wat ons oë oopmaak om God se wonderwerke, die Epifanië raak te sien. Kan ons die Lig en hoop in hierdie wêreld raaksien? Die gesindheid waarmee ons leef en kyk, is dit dié van die Epifaniefees? Die Woord het vlees geword en onder ons kom woon. Hoe kosbaar om te weet: Hy is met ons.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad