Markus 12: 38-44

Vandag se teks beklemtoon die kontras tussen die skyn vroomheid van die skrifgeleerdes en die opregtheid van ’n arm weduwee. Die vroomheid van die skrifgeleerdes en Jesus se dissipels skiet ver tekort. Vals vroomheid gaan oor vertoon en selfhandhawing. Dit is ’n vroomheid van voorkoms, posisie en eer. En hul houding teenoor die weduwees ontstel Jesus veral. Nie alleen minag hulle die weduwees nie, maar buit hulle ook uit. Hulle vererger hul armoede deur hulle huise in te palm.

Met hierdie woorde roep Jesus die skrifgeleerdes na ware vroomheid. ’n Vroomheid wat die wet van God doen deur die weduwee, wese, vreemdeling en armes te versorg. Dit is juis ’n arm weduwee wat die skrifgeleerdes leer wat ware dissipelskap is. Die bydrae van die weduwee het geen indruk op die priester gemaak nie. Die priester kyk na die grote van die bedrag, dis waarin hy belangstel. Haar twee lepta of kwadrans , kleinste geldstukkies destyds, was niks werd nie. Die gewers soos die weduwee van klein bydraes is dikwels deur die priester berispe.

Die rykes se gawes lyk op die oog af groot, maar eintlik is dit klein en vir die koninkryk van God, baie min werd. Vir die onderhoud van die tempeldiens doen dit baie, maar vir die koms van die koninkryk doen dit niks! Die weduwee verlaat die tempel met geen geld nie, maar ryk in vertroue op God en ware vrede. Die gawe van hierdie weduwee getuig daarvan dat sy gekies het om volledig van God afhanklik te leef. Sy kon net een lepta ingegooi het en die ander een vir môre gehou het, maar sy kies om alles te gee. Dít is die ingesteldheid van die ware dissipel van Jesus.

Die enigste pad vir ’n dissipel is die van selfleegmaking, dit is die pad van Jesus, en die weduwee se gawe het van hiervan getuig. Dissipelskap op die weg van die liefde. Ons moet God bo alles liefhê, bo besittings, mense, aansien, mag en gemak.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth