Markus 1: 12-13; Lukas 4: 1-13
In ’n tyd waarin die evangelie verskraal word tot Jesus se sterwe aan die kruis en die wonderlike voordeel wat dit vir die mens het, is hierdie teksgedeelte nogal iets om oor na te dink. In ’n tyd waarin ’n mens so maklik dink en sommer prontuit verkondig dat God net goed doen wat volgens menslike oortuiging goed is, en nie in staat is tot iets sleg of negatief nie, ruk hierdie paar verse ’n mens nogal tot stilstand.
Die oortuiging waarmee beide Evangelieskrywers verkondig dat dit die Heilige Gees is wat Jesus in die woestyn ingelei het, is werklik opvallend. Hy het nie toevallig daar beland of vir die slinkse misleiding van die duiwel geval, soos Adam en Eva in die skeppingsverhaal nie. Hy is deur die Heilige Gees daarheen gelei, en daar kom die duiwel dan in die prentjie. En soos wat die duiwel dikwels doen, gebruik hy halwe waarhede uit die Woord van God, buite konteks, om sy misleidingswerk te probeer uitvoer.
Die belangrikste is dat die Heilige Gees nie vir Jesus in die woestyn ingelei het en daar aan Homself oorgelaat het nie. Volgens die getuienis van Johannes die Doper is Jesus juis die een waarop die Gees van God neerdaal en bly. Wanneer Jesus dan met wysheid die dwaalleer van die duiwel ontbloot en weerlê, en die versoekings teenstaan en nie daarvoor swig nie, dan is dit juis omdat die Heilige Gees vir Jesus lei en beskerm. Sy afhanklike vertroue bewys weer eens dat Hý dié een is wat van die Vader af kom. Hy is gereed vir wat voorlê.
Ons moet onthou dat Jesus aan die einde van sy tyd op aarde vir sy dissipels, en daarmee ook vir u en vir my, verseker het dat die Heilige Gees ook op ons sal bly as ons in Hom glo en dat ons om daardie rede ook die dinge sal doen wat Hy gedoen het en selfs meer. Is ons só oortuig dat dit duidelik blyk uit ons lewe?
Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb