’n Derde ent: Verbondenheid (solidariteit) is die bewuswording van eenheid met die Here jou God. ’n Bewuswording van God se eenheid met die mensdom, met sy skepping. So lief het God die wëreld… In verbondenheid ervaar jy dat jy in jou stilte en afsondering nie alleen is nie.
Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in Christus, en individueel lede van mekaar (Rom 12: 3-5, AFR2020).
Raak bewus van wat jy ervaar wanneer jy besef dat jy stil is, dat jy in jouself stil is, dat jy in geborgenheid is met die Here jou God. Die Here bly deur die eeue heen getrou aan sy belofte van sy teenwoordigheid by jou. So ook vanoggend. So ook vanmiddag. So ook vanaand.
“Hierdie boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.” (Jos 1: 8-9, AFR2020).
Bly in dankbare verbondenheid met jou Skepper vandag terwyl jy in sy skepping beweeg. Hy het die wêreld, en ook vir jou, lief.
Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone