Psalm 19: 6-7
Sodra die Bybel begin praat oor die natuurlike wêreld, word daar onmiddellik ’n spanning geskep binne ons wetenskaplike wêreldbeskouing. Party mense lees die woorde van vers 6 oor die son wat soos ’n bruidegom uit sy slaapkamer hardloop as niks meer nie as godsdienstige sentimentaliteit.
Hoe benader ons die verhouding tussen godsdiens en die wetenskap? Die verskil lê daarin dat godsdiens en die wetenskap verskillende tale praat. Die wetenskap praat die taal van stellings wat reg of verkeerd bewys kan word. Die Bybel praat ook dié taal, en daar is baie feitelik korrekte stellings in die Bybel, maar dit praat ook die taal van poësie en metafore.
Vir die antieke mens was dit glad nie onmoontlik nie om die feitelike verstaan van die aarde as rond (soos dit te sien is in ’n vaas van Atlas en Herakles wat dateer uit die 5de eeu voor Christus waar Atlas ’n aardbol dra) te vermeng met die belydenis in 1 Samuel 2: 8: Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves. Ons as moderne mense sukkel egter om die twee kategorieë te onderskei. Ons werk as moderne lesers van die Bybel is om die poëtiese gedeeltes daarin te kan herken. Ons sê tog ook die son sak en die son kom op, terwyl ons weet dat die son eintlik stil staan en die aarde draai.
Die werklike verskil tussen die wetenskap en geloof is die vrae wat dit aan die werklikheid vra. Die wetenskap vra: Hoe het die heelal ontstaan? En stel dan sekere teorieë daar om die vraag te beantwoord. Geloof vra: Waarom het die heelal ontstaan? Die Bybel beantwoord dan die vraag: Dalk net dat daar op nog ’n manier oor die mag en die werke van God getuig kan word. Dat ’n sondige skepsel kan besef hoe wonderbaar God se Naam is oor die hele aarde.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico