2 Korintiërs 5: 20-21
Een van die mees sinnelose gedagtes is dalk dat ek en jy versoening met God moet aanvaar. Versoening met God is tog iets wat ons graag sal aanvaar nie waar nie? Die waarheid is egter dat ons nie seker is wat om te maak met iets wat ons net kry nie. Die wêreld promoveer ’n kultuur waar ons moet werk vir dit wat ons het, of dit nou altyd so uitwerk of nie.
Hierdie beginsel in geloof kan nie verder van die waarheid af wees nie. In Christus ontvang ons juis nie wat ons verdien nie maar eerder dit wat ons nie verdien nie. Steeds kan ons so maklik probeer werk om by God uit te kom. Ons probeer meer doen en harder werk aan ons geloof.
Die woestyntyd waarin die Lydenstyd ons in nooi kom met ’n nuwe uitdaging. In die woestyn is daar niks wat ons kan doen om dit beter te laat voel of anders te laat lyk nie. Hoe meer ons probeer om ’n oasis in die woestyn self te skep, hoe duideliker word dit dat daar niks is wat ons kan doen om iets aan die omstandighede of die spasie te verander nie. Dit is eers wanneer ons hierdie waarheid aanvaar en begin oplet na die woestyn om ons, dat ons agterkom hoeveel lewe daar werklik is. Watter diere en plante reeds om ons floreer.
Dit is vir hierdie rede dat ons in Lydenstyd se woestyntyd moet leer om die versoening wat God reeds bewerkstellig het, net te aanvaar. Om op te hou self daarvoor werk en vir ’n slag bewus te word dat dit reeds bewerkstellig is.
Wanneer ons hierdie versoening met Christus net aanvaar, begin die wonder van God se genade en vrygewigheid werklik in sink. Dit haal ook druk van ons af om by God te probeer uitkom. Ons verhouding met God en ons versoening met Christus is nie ’n stryd nie, dit is ’n aanvaarding en bewuswording.
Ds Thomas Dreyer, Malelane