1 Petrus 1: 3-11
1 700 jaar gelede in Nicea, sowat 50 km van Konstantinopel, het afgevaardigdes van die kerk besin oor God Drie-enig. Die aanleiding hiervan was die dwaalleer van Arius. Sy uitspraak oor Jesus Christus dat daar ’n oomblik was toe Hy nie was nie, beteken dat Jesus Christus net die eerste skepsel van die Vader is nie en daarom nie waarlik God nie. Tereg het Gregorius van Nazianze verklaar dat die mens dan nie werklik van sonde en dood verlos is nie; ons het dan niks om te verwag nie.
In die derde artikel van die belydenis bely die kerk: Ons glo die Heilige Gees is Heer en Lewendmaker. Die Heilige Gees word as zoopoion – die Lewendmaker – aangedui. In sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament word die Gees wat lewend maak, gestel teenoor dit wat sterflik is, en word die Gees beskryf as die krag van God.
Petrus skryf, waarskynlik op die walle van die Eufraatrivier, aan gelowiges wat hewige en skielike vervolging beleef. Mense in Klein-Asië, van diegene wat daar was toe die Heilige Gees uitgestort is. Die vervolgings waarin hulle hulle bevind, takel die geesteslewe af, maar Petrus bemoedig en vertroos.
Die opstanding van Jesus Christus bevestig dat God die Vader aan die gelowige ’n erfenis skenk. Dit is die ewige lewe: ’n lewe waar die sonde en dood weggeneem is. Hierdie erfenis word vir ons in die hemel bewaar. Maar tot die vervulling daarvan, word ons deur die Heilige Gees bewaar.
Ons kan ook die prooi word van vervolging en moedeloosheid. Maar die Heilige Gees stry met die magte om en in ons, en verseker ons dat God se erfenis sal bly, ondanks die ontrafeling van die bestaan.
Gesang 433
Kom, Skepper-Gees, kom gee u seën en laat die oes sing in die reën.
Die boom dra vrugte by ’n stroom en mense pluk ’n nuwe droom. (Vers 1)
Dr Christo Pretorius, Pretoria / Wonderboom-Suid / Hervormde Teologiese Kollege