Markus 5: 21-43

Hierdie is ’n besige verhaal waar Jesus op pad is om die belangrike raadslid van die sinagoge se dogtertjie te gaan genees. In die skare is daar een wat self genesing so nodig het. Een waarvan niemand weet nie. ’n Desperate vrou wat al 12 jaar lank al aan bloedvloeiing ly. ’n Siek, naamlose vrou wat nie werklik in die openbaar mag wees nie, want sy is as onrein geklassifiseer as gevolg van haar jarelange siekte. Maar ’n vrou wat nie anders kan nie as om uit te strek na die enigste “flardes klere van hoop” voor haar: …as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.

Naby Jesus gekom, steek sy haar hand uit en raak aan sy klere. ’n Mens kan jou hierdie oomblik maar net voorstel waar alles en almal om haar in die agtergrond wegkwyn en dit net sy en haar Verlosser en die stukkie klere van hoop is wat sy in die hand moet neem. ’n Vrou wat dalk so onbelangrik en moedeloos voel dat sy nie eens kans sien om Jesus te stop en met Hom te praat nie: …as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word …

En met hierdie aanraking waar sy haarself so onwaardig ag, word sy gesond. Ons lees hoe Jesus dit beleef en die hele bewegende skare tot stilstand bring, want ook hierdie vrou is waardig dat die Here by haar sal stilstaan en haar verhaal hoor. Sy vertel dit vir Jesus en Hy antwoord haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!

Mag ons ons geloof soos hierdie vrou uitleef. Mag ons soos sy die kledingstuk van hoop raaksien wat daar in Jesus Christus te vind is. Mag jy beleef dat jy waardig is op grond van God wat vryspreek dat Hy ook by jou stilstaan, soos by dié vrou, en jou verhaal hoor, jou verhaal verstaan. En jou verhaal verander tot ware lewe. Amen.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam