Efesiërs 5: 6-20

Paulus praat oor hoe ons moet leef. In die eerste gedeelte van die brief vertel hy wie gelowiges ís in Christus. In die tweede deel van die brief, waaruit ons teks kom, praat hy oor hoe ons moet leef. Die brief begin by ons identiteit, en gaan dan voort om ons roeping en lewenstyl te beskryf. Ons is nuutgemaak. Daarom moet ons nuut leef. Paulus gebruik die bekende metafoor van die verskil tussen lig en duisternis om die Efesiërs te help onderskei tussen die onwaarhede waarmee mense ons baie kere probeer mislei. ’n Eenvoudige maatstaf is of ’n spesifieke optrede in die lig gedoen kan word, en of jy dit eerder in die donker wil doen en wil hê dat ander mense nie daarvan weet nie.

Paulus dring by ons daarop aan om te lewe volgens die lig wat God in sy Woord vir ons geopenbaar het. Hy wil hê dat ons alles in ons vermoë sal doen om agter te kom wat God se wil is, en om daarvolgens te lewe. En dit is binne hierdie lewensbelangrike keuse van lewenstyl dat die vervulling deur die Gees so belangrik is. Want Hy maak ons nie net vol van Homself en van die vrug en die gawes van die Gees nie, maar Hy help ons ook om van ’n losbandige lewe ontslae te raak en ’n dankbare lewe vir die Here te lewe, en nie ’n lewe net vir onsself en vir ons eie sondige begeertes nie. Die Gees is dus nie net die inhoud van God wat ons vol maak nie. Hy is ook die instrument wat ons help om vir die Here te leef. Ons moet dus nie net vol wees van die Gees nie, maar ook vol wees deur die Gees.

Ds Heloïse Herbst. Rietvallei