Handelinge 8: 26-40

Terwyl ons onlangs kamp opgeslaan het in die donker, het my dogtertjie met ’n flits rondgeloop en uiteindelik bietjie verdwaal. Toe sy dit besef het sy begin huil, en toe ek haar gaan haal het, vra ek haar wat gebeur het. Baie ontsteld het sy geantwoord dat haar flits haar nie wou huis toe vat nie, en ek moes verduidelik dat die flits jou nie huis toe vat nie, maar slegs help om die pad te sien wat jou huis toe vat. Hierdie insident het my gedagtes weer aan die rol gesit na menigte se ervaring in ons geloofslewe.

Dit word vir ons in verskeie tekste duidelik dat ons rigting, troos en krag vind in die Woord van die Here. Maar ons neig ook om dan vies te word, wanneer ons verdwaal in die lewe en die Woord van die Here vat ons nie huis toe nie. Hier in Handelinge lees ons van ’n man wat ’n soortgelyke ervaring gehad het. Hy het die Skrif gelees, maar dit het hom nie huis toe gevat nie. In ’n voorwoord van die 1983-vertaling staan: Die Bybel is nie soos ’n handboek met netjiese oplossings in alfabetiese volgorde vir elke probleem of vraag wat jy het nie. Die Boek praat met jou as jy bereid is om hierin die Woord van God te hoor en dit te gehoorsaam en deel van jou alledaagse lewe te maak.

Anders is die Skrif dikwels soos ’n flits wat rondgeswaai word sonder dat dit enige paaie verlig. Die amptenaar het niemand gehad wat dit vir hom kon uitlê nie, maar dit het hom nie gekeer om te lees nie. Die Here het toe op die Here se tyd, vir hom iemand gestuur om die Skrif uit te lê. Ons mag ook soms voel ons bly verdwaal selfs terwyl ons die Skrif lees, maar mag ons dan juis bly lees, nie omdat ons glo die Skrif gaan ons huis toe vat nie, maar omdat ons weet die Here gaan deur die Skrif vir ons die donker verlig, om die regte pad te kan kies.

Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid