Joël 1-3

Ons leef in ongekende tye. Die wêreld is besig om rondom ons te verval. Die ekonomie verswak, met al die gevolge van armoede en misdaad wat dit meebring. Daarmee saam is korrupsie, geweld en uitbuiting aan die orde van die dag. Morele waardes verval. Ons sukkel om positief te dink oor die toekoms. Ons droom nie meer nie. In al die onsekerheid is ons besig om ons geloofsidentiteit te verloor. Ons sal baie keer vir mekaar sê dat ons nie weet waar alles gaan eindig nie. Dit is die taal van mense wat vasgekeer voel.

Hoewel dit vir ons voel of al die dinge wat ons nou beleef nog nooit gebeur het nie, of die wêreld net erger en erger word, bring die profeet Joël vir ons perspektief. Hy gebruik die beeld van verwoestende sprinkaanswerms om die breuk en krisis wat die Babiloniese ballingskap oor Jerusalem gebring het, mee te beskryf. Alreeds in die Bybelse tyd het mense slegte dinge beleef, was die wêreld in chaos gedompel, het die mense ongekende tye beleef. Geslag op geslag, generasie na generasie vra dieselfde vraag: Het so iets al in julle tyd gebeur? Die antwoord: Ja, want die spreekwoordelike sprinkane van die lewe was maar nog altyd daar.

Maar die sprinkane van die lewe het nie die laaste sê nie. Wanneer die Here aanbid word, sien gelowiges die herstel raak wat God bring. Hierdie herstel groei uit God se wese van barmhartigheid en genade. Saam met die herstel wat die Here bring, begin daar ’n proses van herintegrasie. In Joël 2 lees ons dat God sy Gees laat kom op al die mense – seuns, dogters en oumense, selfs die slawe, dié wat nie in aansien is nie. Ja, vir magtelose mense gee God krag, vir almal wat Hom aanroep, gee God sy lewegewende Gees. So word gewone mense weer geïntegreer om deel te neem aan God se herstelwerk in die wêreld. Toegerus met God se Gees, roep die Here elkeen van ons om die hoop en herstel wat Hy bring, al verder te laat uitkring in die wêreld.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom  /  Hervormde Teologiese Kollege