Markus 8: 35
In Markus 8 sê Jesus iets wat op die oog af soos ’n teenstrydigheid klink: wie sy lewe probeer red, sal dit verloor; maar wie dit ter wille van Hom en die evangelie verloor, sal dit red.
Ons kultuur leer ons dat die lewe iets is wat jy moet beskerm. Dis soos ’n kas vol breekware: moenie mors nie, moenie waag nie, moenie te veel prysgee nie. Maar Jesus sê: Probeer jy jou lewe vashou, dan glip dit weg. Gee jy dit oor, dan kry jy dit terug, nie in dieselfde vorm nie, maar nuut, geheilig, geheg aan God se droom vir jou.
Dis belangrik om op te let dat Jesus nie praat van martelaarskap as ’n heldedaad nie. Hy praat van die daaglikse besluit om jouself nie as middelpunt te sien nie. Om jou lewe, jou tyd, jou energie en jou begeertes in diens van Hom en sy evangelie te stel. Dis nie selfvernietiging nie; dis oorgawe. En oorgawe is nooit neutraal nie, dit skep ruimte vir iets groter as jouself.
Wanneer jy jouself in Christus verloor, word jy nie minder nie, jy word meer. Want Hy gee aan jou lewe ’n diepte en rigting wat jy nie self kan maak nie. Dis hoe dissipelskap werk: dit voel soos doodgaan, maar dis eintlik hoe nuwe lewe begin.
In hierdie tweede Lydensweek en vir die res van die Lydenstyd vra Jesus jou: Wat hou jy terug? Wat probeer jy beskerm? Jou reputasie? Jou sekerhede? Jou drome? Jy mag dalk ontdek dat die vryheid wat jy soek, presies daar wag waar jy dit aan God oorgee.
Gebed
Here, ek hou so maklik vas aan my eie lewe, my planne, my beheer. Leer my om dit in U hande te laat. Ek wil nie meer my lewe red nie, ek wil dit aan U verloor en só die ware lewe vind. Amen.
Ds Rue Hopley Pretoria-Oos