Esegiël 37: 7-9

Brueggemann sê dat ons as gelowiges ’n tweeledige profetiese taak het. Dit beteken dat ons die verantwoordelikheid het om die waarheid te praat oor ons omstandighede en ons realiteit. Ons mag/moet onreg, pyn en onsekerheid by die naam noem en dus nie in ontkenning leef nie. Hy sê egter dat ons ook ’n taal van hoop moet praat – ten spyte van ons realiteit. Dit beteken dat hierdie jaar (met sy uitdagings en hoogtepunte) net soos die droë bene in die laagte nie ons einde, ons finale realiteit is nie.

Daar is in groot dele van die wêreld en selfs in baie kerke weinig meer as droë bene van wanhoop oor. Daarom herinner Esegiël 37 ons dat net God dié situasie kan omdraai. Hoop verander nie noodwendig ons omstandighede nie, dit voer ons ook nie weg uit die vallei van droë, dooie bene nie. Soms vra God van jou om in die middel van pyn en vrees te sê: Hierdie droë bene is nie die volle verhaal nie. Hierdie jaar is nie die einde van my storie nie. Hierdie hartseer, teleurstelling of moedeloosheid is nie waar dit eindig nie.

Dink na oor wat God vir jou met hierdie gedeelte wil sê. Wat vra hierdie teks van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy daaroor dink of daarmee doen?

Hierdie gedeelte is nie die ontkenning van droë bene nie en vra ook nie van ons om die minder aangename dele van die afgelope jaar te ontken nie. Hierdie verhaal vra van ons om anders na ons tydperk van droë bene te kyk. Esegiël teken dus vir ons ’n prentjie van hoop. Mag jy opnuut besef dat ons die aktiewe God dien, die God wat op soewereine manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring – totdat ons ook ervaar wat Israel ervaar het.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora