Matteus 14: 13
Telos beteken einddoel of hoogste doel. Vir ’n gelowige is die hoogste doel om die Here te leer ken. Ek wil nader aan God beweeg en ek wil nader aan Jesus kom. Gelowige meditasie, gebed en Bybelstudie is die algemeenste geloofsdissiplines van die gelowige. Volgens Richard Foster is die grootste geloofsiekte van ons tyd dat mense baie oppervlakkig word in hul geloof. Hierdie klassieke dissiplines dwing ons om verder as net die oppervlak te beweeg.
Ons sien dit selfs by Jesus. Wanneer dinge besig word, onttrek Hy Hom (Matt 14: 13). Wat is die doel met groei vir geloof? Abbey sê dat groei sonder ’n doel (sonder telos) dieselfde ideologie het as ’n kankersel. Meditasie het ’n doel en dit (die telos) is groei na Christus toe. Thomas À Kempis sê dat dit gaan oor ’n vriendskap. ’n Bekende vriendskap wat ’n gelowige met Jesus ontdek.
Christene deur die eeue heen het verskillende en diverse maniere gehad om met God te kommunikeer. Die mediation scripturarum met meditasie oor die Skrif of die Bybel was die algemeenste en dit het mense gehelp om perspektief te behou tydens hul meditasies. Bonhoeffer, wat betrokke was by die stigting van die seminarium in Finkenwalde, het meditasie elke dag vir ’n halfuur toegelaat. Hy het dit ingestel dat almal dieselfde tyd in stilte moes deurbring, wat deur almal gerespekteer is. Hyself het partykeer een hele week oor ’n enkele teks gemediteer. Vir alle spirituele dissiplines is gebed die sentraalste, want dit plaas ons in die ruimte van die Vader. Om te bid, is om te verander. Dit is die grond wat God gebruik om ons te laat verander. Hoe nader ons aan die hartklop van God kom, hoe meer sien ons ons behoefte om te verander na Christus toe. Martin Luther het gesê dat hy so baie dinge in sy lewe het om te doen dat hy drie ure ’n dag moet bid.
Ek weet nie hoe moontlik dit vir jou is nie? Maar as gelowiges moet ons gedurig herinner word aan die telos van ons lewens.
Dr Hein Delport, Swartkop / Hervormde Teologiese Kollege