Markus 8: 27-38 (AFR2020)
In die Markus-evangelie word dit die eerste keer duidelik vir die dissipels wie Jesus eintlik is. Die gedeelte begin met die kwessie van vooropgestelde idees. Jesus vra vir sy dissipels: Wie sê die mense is Ek? En dan sien ons hoe die dissipels Jesus antwoord en uitwys watter verkeerde afleidings die mense oor Hom gemaak het. Hulle sê: Johannes die Doper; ander sê Elia, en nog ander sê een van die profete. (Mark 8: 28)
Van die mense wat sporadies vir Jesus sien optree kan ’n mens hierdie verkeerde antwoorde verwag. Maar dan vra Jesus die dissipels wat dag na dag saam met Hom gegaan het en alles gesien het wat Hy gedoen en geleer het. Jesus vra hulle reguit: Maar julle, wie sê julle is Ek? (Mark 8: 29a). Dan die hoogtepunt van Petrus se antwoord op daardie stadium in die Evangelie volgens Markus: U is die Christus! (Mar 8: 29b).
Petrus berispe vir Jesus toe Hy vertel het van hierdie bittere lydensweg wat Hy moet stap. Hoekom doen Petrus dit? Want selfs die Petrus wat sopas besondere wysheid getoon het, het sy eie vooropgestelde idees wie en wat Jesus is en vir hom moet wees.
Daarom berispe Jesus vir Petrus terug oor sy verkeerde vooropgestelde idee van wie Jesus is en wat Hy vir hulle moet doen. Jesus sê dat hulle Hom moet volg, maar volg in wat hul geensins gedink het nie: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. (Mark 8: 34)
Nie eiebelang navolg in wat jy dink goed en reg is nie. Maar die belange van God volg. Jouself verloën. Daardie vooropgestelde idees wat jy dink reg is, opsy skuif en die pad van God stap. Jouself nie vooropstel nie, maar die wil van God. Dít is wat dit ook beteken om jou kruis op te neem: om jouself te onttroon as die koning van jou eie lewe.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam