Markus 13: 1-8

Dit is deesdae hoogmode om die tekens van die tye te interpreteer, die oorloë, aardbewings, hongersnood, ensovoorts. Al hierdie gerugte maak ons bang en laat ons twyfel. Ons teks vandag is ’n aansporing vir volgelinge van Jesus oor hoe om te reageer in moeilike tye. Daarom behoort ons te besin oor ons geloof in en navolging van Jesus Christus totdat Hy weer kom, ongeag wanneer en hoe.

Jesus se kernboodskap hier fokus op die hemelse beloftes tydens aardse dreigemente en swaarkry. Ons moet let op “wat” aan die gebeur is in die lewe hier en nou.

Dit laat my dink aan Karl Barth se preek te midde van die stootskrapers wat die rommel van die gebombardeerde stad Bonn wegstoot. Barth sê dat die belydenis oor Christus wat aan die regterhand van God sit, ’n beskrywing is van die teenwoordige tyd. Vir Barth is die eerste en die laaste werklikheid wat saak maak vir ons lewe in ons tyd, die werklikheid dat Jesus aan die regterhand van God sit. Hy kom met krag en majesteit. Die boodskap is een van volharding en versterking van ons geloof te midde van die lyding in ons eie tyd.

Wanneer die tekens van die tye ons bang maak, moet  ons onthou om op ons hoede te wees. Ons moet fokus op Christus se beloftes, eerder as om vrae te vra en te wonder oor die eindtyd. Onthou, ons reaksie op die hede word gevorm deur die toekoms: Christus sit aan die regterhand van God van waar Hy sal kom…

Gebed

Liefdevolle God, as niemand anders na ons luister nie, hoor U ons as ons ons hart voor U uitstort. As niemand anders ons raaksien nie, sien U ons nood en vul U ons met vreugde. As almal anders van ons vergeet, onthou U ons en roep U ons by die naam. U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat. Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor en om u boodskap te gehoorsaam. Amen.

Dr Johan Bester. Randfontein Midpark / SGB