Psalm 8: 1-10

Hier is iemand aan die woord wat baie duidelik nog homself aan die skepping kan verwonder. Ons wonder dadelik hoeveel van hierdie verwondering nog by ons leef. Ons samelewing het in ’n groot mate verwonderingsarm geword. Ons programme is vol, ons is altyd haastig en het daarby geleer om krities te wees. Sy verskyning in ons wêreld en ook in die natuur laat ons selde meer oopmond en blinkoog onder God se sterrehemel staan.

Die digter van Psalm 8 sit heel waarskynlik op die plat dak van sy nederige huisie iewers in Palestina. Bokant hom is daar ’n duisend miljoen Melkwegstelsels. Vir die digter is dit nie bloot net ’n skitterende speldepatroon nie, maar hy herken dit as die vingerafdrukke van God, die werk van sy vingers.

Hy verwonder hom verder oor God se skepsels, in besonder die mens. Dan verruil die digter sy teleskoop vir ’n mikroskoop. Hy kyk nie net bo nie, hy kyk ook na binne en sy verwondering groei steeds. Die dieptepunt van sy verwondering oor God is egter oor sy optrede teenoor die mens. Toe ons ons hoë roeping as mense gefaal het. Toe ons klaaglik daarin misluk het. Toe ons in sonde as sy skepsels van Hom weggedraai het. Toe het God ons herskep.

Die hart van die psalm is dat dit nie die grotes en magtiges wat goed genoeg is om die grote en magtige God te prys nie. Dis ’n gawe wat aan kinders en suigelinge gegee word. Sommige uitleggers sien in laasgenoemde beskrywing nie werklike kinders nie, maar eerder die volk Israel wat in ballingskap is.

Gestroop van alle aardse sekerhede, gebroke en verstote, wat aan die einde van hul kragte gekom het. Dit is juis sulke mense, wat weet hoeveel die Here vir hulle doen, wat hulle oor God se grootheid kan verwonder.

Gebed

Here, ons verwonder ons aan u handewerk, maar meer as dit aan u genade vir ons as wat dikwels faal in die taak wat U aan ons opdra.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort