1 Korintiërs 12: 4-11

Ons bely die Drie-enige God: Skepper, Verlosser en Gees. Ons lewe in die bedeling van die Gees. Paulus beskryf die gawes van die Gees ook in die vorm van ’n drie-heid en eenheid: verskillende gawes, maar een Gees; verskillende dienste, maar dieselfde Gees; verskillende aktiwiteite, maar dieselfde God wat dit bewerk. Al is daar ’n verskeidenheid kragtige werkinge, die God wat dit gee, is één. Al is daar ’n verskeidenheid gelowiges, die liggaam van Christus is één. Die Gees is ’n gawe van die eindtyd. Eindtyd verwys nie na die hiernamaals nie, maar na ’n nuwe bedeling. Daar het verandering gekom. ’n Nuwe wind waai. Die Messias het gekom en ons het die Gees van God ontvang. Hoe leef ons dan ánders in hierdie nuwe bedeling?

Ons mense sukkel maar met verskeidenheid. Ons voel tuis tussen wie en wat eners is. Ons wil hê ander moet soos óns oor dinge dink. Maar, sê Paulus: God se Gees werk juis te midde van verskeidenheid en in die werklikheid waarin ons leef. In hierdie werklikheid word van ons gevra om méér te word as “ek” en “myne”, om die vrees en selfhandhawing wat ons dikwels dryf, te oorstyg. Daartoe het ons hulp nodig. Ons hulp kom van die Gees van God. Die liefde verdryf die vrees en selfsug. Die Gees gee vrede met God, onsself en ander. Die één Gees wat die genadegawes en dienste gee, is die een wat ons motiveer om by onsself verby te kom en iets te beteken vir ander in die lewe. Wat met verskillende aktiwiteite vertaal word in die teks, is letterlik in die Grieks: kragtige werkinge. Sowel die gawes as die kragtige werkinge kom van buite onsself. Uit wat ons in oorvloed ontvang, kan ons oorvloedig gee.

Gebed

God, te midde van die groot verskeidenheid, maak my oë oop vir die spesifieke gawes wat u Gees my gee en vir die diens wat ek kan verrig vir U en my medemens. Laat my u kragtige werkinge sien en ervaar.

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus