Spreuke 4: 20-23 (AFR2020)

My seun, slaan ag op my uitsprake; spits jou ore vir my woorde. Laat hulle nie aan jou oë ontglip nie; bewaar hulle diep in jou hart. Want dit is die lewe vir hulle wat dit vind; vir die hele liggaam bring dit genesing. Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe (Spr 4: 20-23).

Ek begin hierdie jaar vanuit die hart. Met die hart as vertrekpunt word ek opnuut bewus van wat tans in my hart is. My hart is vol emosies van die jaar wat agter my lê. Gevoelens soos dankbaarheid, tevredenheid en vergenoegdheid. Ook is daar gevoelens van verlies soos hartseer en ’n bietjie heimwee. Ek raak bewus van ’n stukkie bitterheid en moedeloosheid vanweë uitdagings in 2025.

Hierdie gevoelens is mý gevoelens. Ek kan bewustelik oplet na wat my hart ervaar. Net so kan ek ook bewustelik oplet na wat in my hart leef wat my hart waarlik wil ervaar en na smag.

My voorneme om te luister, is juis ná die wysheid verborge diep in my hart. Ek wil lewe hierdie jaar – vanuit my hart. In my hart ervaar ek waarlik deernis, goedheid, vriendelikheid, empatie – nie net vir myself nie – vir die naastes aan my. Aan dié vir wie ek ’n naaste word. Aan wie ek ’n fontein van lewe kan wees en is.

Spreuke 4 nooi my uit om te let na die wysheid wat in my hart leef. Die wysheid te ag en te onthou. Die wysheid hoog op die prys te stel. Die wysheid te omarm. Hier vanuit die hart kan ek nou my oë rig op die jaar wat voorlê. Dan lyk die vooruitsigte anders vir 2026. Ek kan vandag kies om nie links of regs af te draai nie – maar eerder die gedagtes wat in my denke leef opnuut met deernis te aanskou met die wysheid wat in my hart leef.

Gebed

Skep ’n rein hart vir my, o God. Vernuwe ’n bestendige gees in my binneste.

Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone