Matteus 14: 22-33; Handelinge 8: 14-25

Nie net jongmense het rolmodelle nodig nie, volwassenes ook. Want ons moet besluit watter soort mens ons wil wees in die lewe. Ook vir die geloofsreis soek ons rolmodelle. Hulle kan gewone mense óf karakters uit die Bybel wees. Wat van Petrus as geloofsvoorbeeld? Hy volg Jesus en word later ’n groot kerkleier. Met so ’n groot figuur kan ons seker nie identifiseer nie, maar met sy menslikheid en swakhede wel. Nie net die Bybel nie, maar ook ander geskrifte vertel van Petrus. In een van hulle erken hy: Sy probleem was dat hy nie kon sien dat God daar is en help nie.

Vuurtorings is vroeg in die geskiedenis gebou om vir skeepvaarders ’n baken te voorsien. Die Pharos van Alexandrië (vuurtoring) (uit byna 300 vC) was een van die sewe wonders van die wêreld. Omdat die kus van Egipte geen natuurlike bakens het nie, het die toring bedags en snags as baken vir skepe gedien. God is so ’n oriënterende ligbaken in gelowiges se lewe. Petrus erken dat hy die baken by tye nie kon sien nie.

In Handelinge is Simon die Magiër jaloers op die groot dinge wat Petrus doen. Hy wil ook daardie soort mag hê en bied selfs vir Petrus geld aan. Dit is ’n verkeerde gesindheid, sê Petrus, en Simon toon berou. Die Bybel vertel niks verder oor hom nie, maar in ’n ander geskrif lees ons hoe hy Petrus beskinder: Hy was nooit ’n egte geloofrolmodel nie, daarom het hy begin sink toe hy op die water na Jesus toe loop. Petrus verduidelik die verskil tussen kleingeloof en ongeloof. Kleingeloof – om soms bang te wees en God nie te kan sien nie – is menslik. Maar ’n mens kan leer uit jou foute en bly groei in die geloof sodat jy kan sien dat God altyd daar is. Dan kan jy ’n waardige voorbeeld vir ander word. Want jy kan sien waar jou hulp vandaan kom en word wie jy wil wees.

Prof Yolanda Dreyer, Emeritus