Handelinge 1: 8 (AFR2020)

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.

Net voor sy hemelvaart bemagtig Jesus sy dissipels en gee aan hulle die opdrag om getuies oor die hele aarde te wees. Sjoe, dis ’n groot opdrag! Die hele wêreld? Hulle is net mense … en net ’n paar. Hoe sou hulle dit doen? Deur die Goddelike krag van die Heilige Gees.

Tydens die uitstorting van die Heilige Gees is die dissipels met Goddelike bekwaamheid geseën, ’n bekwaamheid wat menslike vermoë ver oortref. Die Gees van God in ons is ’n krag van God, nié vir jouself of jou eie ambisie nie, maar om die koninkryk van God te bevorder. Die Gees bemagtig gelowiges (ek en jy) om struikelblokke te oorkom, in teëspoed te volhard en die Goeie Nuus met vrymoedigheid te verkondig.

Sien die chronologiese orde in Jesus se belofte. Eers getuies in Jerusalem. Dán strek dit na Judea en Samaria. Uiteindelik bereik hul getuienis die uithoeke van die aarde (hier sit jy en lees dit). Dis soos ’n klippie wat jy in ’n dam gooi en wat dan ’n rimpeleffek in die water veroorsaak wat al wyer en wyer uitkring. As Jesus die opdrag gee om getuies te wees van die Goeie Nuus (die klippe in die dam), bedoel Hy dat die Gees die Goeie Nuus gebruik om ander ook te verander, en hulle dra dan die boodskap verder (die rimpels in die water). Lees veral die universele omvang en die inklusiewe aard van God se verlossingsplan. Wees getuies oor die HELE AARDE … VIR ALMAL!

Die verskoningsvraag waaragter baie gelowiges egter wegkruip, is: Hoe? Kom ons lees die teks weer: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom… Sien jy, dit gaan nie oor wat jy dink jy kan doen nie, maar oor wat God kan, sal en wil doen. Kind van God, jy het die Gees van God in jou.

Ds Dawie Jacobs, Emeritus